BlogsEditor's noteOpinion

In die kollig

Leer ken Apie Peens.

Oud-kol Abraham (Apie) Peens is die nuutverkose voorsitter van Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Dié 69-jarige inwoner van Brakpan-sentraal is met Lorinda getroud en die egpaar het drie dogters.

• Jy is die nuwe voorsitter van die Brakpan GPF. Wat is die onmiddellike uitdagings?

Ons grootste uitdaging is om die gemeenskap se vertroue teenoor die GPF weer op te bou.

• Waarom is dit nodig dat ’n dorp ’n GPF moet hê?

Die GPF is daargestel om die vertroue tussen die gemeenskap en die SAP te versterk en die SAP met die bekamping van misdaad by te staan. Die GPF is alleenlik die oë en die ore vir die SAPD.

• Jy was vir baie jare ’n reservis in die SAPD. Vertel meer.

Gedurende my 34 jaar as reservis het ek diens in verskeie provinsies tot so ver as Springbok in Namakwaland verrig. Ek was ook bevoorreg om my offisierskursus by die SAPD opleidingskool in die Paarl te kon verwerf. Gedurende my dienslewering oor die jare het ek met verskeie gemeenskappe saamgewerk en so ’n groot vriendekring opgebou.

• Waar is die kwelpunte in Brakpan, ten opsigte van misdaad?

Die groot probleem wat ons in Brakpan ondervind is werkloosheid. Weens hierdie probleem wend baie van ons gemeenskap hulle tot misdaad om kos op die tafel te kan hê. Die beskikbaarheid van dwelmmiddels is ook ’n groot probleem in ons dorp.

• Is jy van mening dat misdaad in die land ooit sal afneem?

Terwyl ons ekonomie so swak is en daar nie werkskepping plaasvind nie, sal dit moeilik gaan om die misdaad te bekamp.

• Wat is/was jou beroep?

In my privaat beroep is ek ’n verkoopskoördineerder wat betrokke is met die vervaardiging en die verskaffing van spoorlyn komponente.

• Jy woon in Brakpan. Wat omtrent die dorp is vir jou spesiaal?

Ek ondervind dat dit, weens werkloosheid, finansieel moeilik gaan in baie huishoudings en dit verbaas my hoe die gemeenskap mekaar ondersteun.

• As jy die horlosie kon terugdraai, sou jy dinge anders gedoen het?

Ek is tevrede met die verloop van my lewe en is dankbaar vir dit wat ek reeds bereik het. Ek kan nie genoeg die Vader dank vir die goeie gesondheid wat ek nog geniet nie.

• As jy ’n naweek saam met vyf mense kan deurbring, wie sou jy kies?

Saam met my vrou , my kinders en kleinkinders

• Waarsonder kan jy nie klaarkom nie?

Sonder die Hemelse Vader in my lewe sal ek geen dag kan staande bly nie.

Lees ook:

Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum wil impak maak op misdaad

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button