Deon de Villiers (18) van Dalview het onlangs, nadat hy saam met ander spanlede aan die Gauteng Majorette Cheerleading Association (MGCS) proewe deelgeneem het, vir die 2018-Gautengspan gekwalifiseer. Hy het ook sy Gauteng Provinsiale kleure vir “cheerleading” (rasieleier) ontvang.
• In watter skool is jy?
Ek is in Graad 11 in Belvedere Skool, waar ek ook ’n leier is.
• Wat het jou laat besluit om ’n rasieleier te word?
Ek is deur ‘n meisie in die skool gevra of ek nie sal belangstel om die sport te probeer nie en ek het dit van die begin af baie geniet. Ek dink ook dis ‘n baie “cool” sport.
• Hoe lank beoefen jy al die sportsoort?
Vir die afgelope twee jaar.
• Hoe gereeld oefen jy en die span?
Ons oefen nogal baie. Maandag tot Vrydag oefen ons vir so drie ure en Saterdag oefen ons so ses ure.
• Moet ’n mens baie fiks wees en wat doen jy om fiks te bly?
Ja, ‘n mens moet baie fiks wees om die sport suksesvol te kan beoefen, want dit verg baie krag en konsentrasie. Ek doen gereeld kragoefeninge by die gimnasium.
• Het jy al hard geval tydens een van julle optredes of oefensessies?
Ja, met my heel eerste “partner stunt”- optrede toe ek my spanmaat neergesit het, toe haak my voet vas. Ek het baie hard op my sitvlak te lande gekom en het vir so drie dae lekker seer gehad.
• Enige snaakse oomblik waaraan jy kan dink?
Ja, dit was toe een van my spanmaats ‘n ‘backflip’ probeer maak het en hy kaplaks op sy maag te lande gekom en sy wind uitgeval het.
• Het jy enige ander belangstellings of stokperdjies?
Om ‘n rasieleier te wees is my lewe en ek is baie lief om na musiek te luister.
• Watter beroep sal jy eendag wil volg?
Ek sal graag eendag ‘n internasionale verkoopsverteenwoordiger wil wees of dalk ‘n sweiser.
• Dink jy die jeug van vandag spandeer te veel tyd op hul selfone?
Definitief. Ek is seker self ook so bietjie skuldig daaraan, maar my sport hou my baie besig. Die jeug van vandag doen veels te min sport en raak luier by die dag.
• Jy word na ’n verlate eiland gestuur en jy mag net vyf items saamneem. Wat sal dit wees?
Beslis ’n oorlewingspak (survival kit), my ‘onesie’, ’n pyl en boog, ’n knipmes en vuurhoutjies.
• Wie is jou held en hoekom?
Ek het nie ’n held nie. Ek kyk nie op na iemand nie. Ek sal graag ‘n held vir iemand anders wil wees.
Lees ook:
Rasieleiers hou dorp se naam hoog
Volg ons:



