Editor's choiceSchool sportSport

Dié langasems wil eerste oor die wenstreep

Die D5-landloopkampioenskappe, wat onlangs plaasgevind het, was vanjaar ’n groot hoogtepunt vir die Cloete-gesin van Geluksdal.

Honderde langasems het aan die kampioenskap deelgeneem en onder die deelnemers was Deiniol (17), haar broer Alisandro (12) en haar jonger suster Jaylene (13) Cloete.

Die drie het stilletjies gehoop om goed te vaar, maar toe al drie eerste plekke in hul ouderdomsgroepe ingepalm het, het die vreugdevure hoog gebrand.

Met dié uitslae is al drie in die D5-span opgeneem, wat daarna aan die Gauteng kampioenskappe, wat te Hammanskraal gehou is, deelgeneem het.

Ook hier, waar die bestes van die provinsie se langasems meegeding het, het dit met die Cloete’s goed gegaan.

Deiniol, wat ’n graad twaalf leerder aan die Hoërskool Stoffberg is, het ’n 13de plek behaal, Alisandro, wat ’n graad ses leerder aan die Laerskool Môrewag is, het ’n 19de plek behaal en Jaylene, wat ’n graad agt leerder aan Hoërskool Die Anker is, het ’n vyfde plek behaal.

Jaylene het met haar prestasie na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, wat die komende naweek plaasvind, deurgedring.

Die kinders se trotse ma, Jackie (36), vertel dat haar kroos saam oefen.

“Die kinders geniet dit om saam te oefen en hulle oefen elke dag van die week. Naweke vat hulle dit so bietjie kalmer,” het Jackie gesê.

Benewens die drie se uithouvermoë oor lang afstande, het elkeen ook ander belangstellings.

Deiniol sing graag en was vir die afgelope vyf jaar deel van Die Hoërskool Soffberg se revue.

Jaylene, wat ook tweekamp doen en goed daarin presteer, swem graag.

Alisandro geniet dit om krieket te speel en hy speel juis die komende naweek proewe vir die Easterns span. Sy droom is om eendag vir Suid-Afrika krieket te speel.

“Ons geniet wat ons doen en dit gaan nie altyd daaroor om te wen nie, maar net om jou beste te gee,” het Deiniol gesê.

“Dit is belangrik om nooit op te gee nie en altyd net jou beste te gee,” was Jaylene se raad aan ander jongmense.

Jackie vertel dat haar kinders eintlik haar en haar man, Donald (41), se rolmodelle is.

“Ons drie kinders is so positief en hulle werk regtig hard om hul drome te verwesenlik.”

“Dit soms moeilik om ons trane van blydskap by ’n byeenkoms in te hou.”

“Maar daar is altyd uitdagings soos finansies. Ons kinders droom groot en soms is dit maar moeilik om by alles uit te kom,” het Jackie gesê.

Lees ook: 

Die Anker wen Intertegnies vir die sesde jaar

Landloop atlete Môrewag se trots

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button