Burgemeester van Ekurhuleni veroordeel maj Coert Jordaan se moord ten sterkste
Die burgemeester van Ekurhuleni, rdl Mondi Gungubele het sy skok uitgespreek oor die moord op maj Coert Jordaan, hoof van Ekurhuleni se Berede Eenheid het ook die daad ten sterkste veroordeel.

Jordaan het gister by Ashton Lake in Springs vis gevang toe hy vermoor is.
“Dit is veral hartseer omdat die voorval op Nasionale Polisiedag plaasgevind het. Die dag word juis daar gestel om erkenning te gee aan die opofferinge van dié mans en vroue wat ‘n stryd teen wetteloosheid voer,” het Gungubele gesê.
“Hulle plaas hulle eie veiligheid op die spel, sodat ander rus en vrede kan ondervind. Daarvoor moet hulle vereer word en nie vermoor word nie,”het hy bygevoeg.
Die burgemeester het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om nou saam met die polisie te werk in ‘n poging om die skuldiges, wat vir Jordaan se moord verantwoordelik is, vas te trek.
“Ek is seker daarvan dat daar iemand met inligting moet wees. Help ons om hierdie misdadigers vas te trek voordat daar nog ‘n lewe geëis word,” het die burgemeester gesê.
Gungubele het bekend gemaak dat ‘n grootskaalse polisie soektog na die skuldiges aan die gang is.
Enigiemand met inligting word versoek 08600 10111 te skakel.
Lees die aanvanklike berig hier



