Gemeente bring blyspel op die planke
Dit is 'n goedvoel storie met so ’n bietjie lag, traan en spanning daarby ingemeng.
Die NG Kerk Dalpark, Kaléo bied op 2 Junie en ook vanaf 7 tot 9 Junie ’n musiekblyspel, Die Skuilte, by die kerk aan.
“Drama en musiek is een van die sektore van die samelewing wat ons gemeente graag wil gebruik om ’n verskil in ons gemeenskap te maak”, het Ds Hennie Pienaar, leraar van Dalpark Kaléo gesê.
Hennie, wat ook die skrywer van die musiekblyspel is, het sy inspirasie in die fliek Save Haven gekry en besluit om die verhaallyn in ’n verhoogstuk te omskep en ook ’n geestelike element by te bring.
Hy verduidelik dat dit ’n goedvoel storie is met so ’n bietjie lag, traan en spanning daarby ingemeng.
“Dit is ’n musiekblyspel wat by oud en jonk byval sal vind sonder om die geestelike te oorbeklemtoon en dit sal jou tot nadenke stem.
“Dit is ’n verhaal oor nuut begin. Elkeen van ons het soms nodig om nuut te begin”, het Hennie gesê.
Lees: KYK: Baba- en kleuterkompetisie wenners kry hul pryse
Lidmate word ingespan en gebruik hulle talente in sang, musiek en drama om ’n goedvoel boodskap met ’n geestelike strekking oor te dra.
Die Skuilte is ’n eietydse verhaal wat tegelyk in Brakpan en ’n fiktiewe dorpie met die naam “Mooihawens” afspeel. In die blyspel word die verhoog en multimedia gebruik om die storielyn oor te dra.
Die verhaal gaan oor ’n Oos-Rand meisie, met die naam Lila (gespeel deur Tanje Els, wat ook die regisseur van die produksie is).
Sy probeer om haar verlede agter te laat en ’n nuwe begin te maak.
In “Mooihawens” raak sy verlief op die plekkie en sy mense.
Die Veilige Skuilte-kerkie bied vir haar ’n veilige heenkome, maar as sy dink dat sy haar voete weer vind, haal haar verlede, waarvan sy af wegvlug, haar in.
Lees: What’s happening in Brakpan
’n Misverstand tussen haar en die nuwe liefde in haar lewe, Alec (gespeel deur Danie van Niekerk) ontstaan en dreig om haar nuutgevonde geluk te kelder.
Die verhaal ontknoop op ’n verrassende wyse.
Kevin Brooks (gespeel deur Jonty Fouché) sorg vir heelwat drama en ’n sterk storielyn.
Die vraag, in die woorde van die eienaar van die Seepunt Restaurant, Sue (gespeel deur Maritza Steyn) is: of die “seerower ’n matroos” sal word en of dit die Suidweste wind is wat haar daar uitgewaai het.
Die toneel word sterk ondersteun en gedra deur die vars en kontemporêre Afrikaanse musiek van die talentvolle kunstenaar Christelle Combrink (“Stella”) en haar groep “Duis:Lig”.
“Met die blyspel wil ons graag terugploeg in die gemeenskap”, het Hennie gesê.
“Die volle wins van die projek sal vir die gemeente se skoleprojek gebruik word, waar ons op weeklikse basis vir minderbevoorregte laerskoolleerders ’n toebroodjie (en meer) voorsien,” het hy bygevoeg.
Vir meer inligting en besprekings kan die kerkkantoor by 011 915 1858 of 083 2600 119 gebel word.
Volg ons:
For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs Advertiser, Boksburg Advertiser, Benoni City Times, African Reporter



