Inspirerende senior (71) bewys dit is nooit te laat vir avontuur nie
Met ervarings soos ’n tandemvalskermsprong en ’n warmlugballonrit bly Alet Kruger se lus vir die lewe en nuwe avonture ’n inspirasie.
Ouderdom is net ’n getal, en met goeie gesondheid en ’n lus vir die lewe is daar geen rede om handjie gevou te sit nie.
Dít is die positiewe en vrolike uitkyk op die lewe van Alet Kruger (71), ’n jarelange inwoner van die dorp.
’n Rit in ’n warmlugballon, ’n petalje op ’n volstruis se rug en ’n tandemvalskermsprong is drie van die avontuurlustige aktiwiteite wat sy reeds op haar kerfstok het, maar sy is beslis nie klaar nie.
Alhoewel sy so effe skrikkerig is vir water, wil sy graag in ’n glasbodemboot, verkieslik in die Hermanus omgewing, wees om die seelewe onder haar te beleef. ’n Ander wens is om op ’n olifant te kan ry.

Alet vertel dat ’n hoogtepunt van haar ervarings beslis die tandemvalskermsprong was wat sy verlede jaar in Desember ondervind het.
“Dit is iets wat ek lank oorweeg het, en uiteindelik het alles in plek geval sodat ek dit saam met twee van my kleindogters, Karla en Kariena, kon ervaar,” vertel Alet.
“Ons is op die dag eers touwys gemaak en omdat ek nie bang is vir vlieg nie, was dit aanvanklik ’n rustige ondervinding.
“Maar toe die vliegtuig se deur oopgaan en dit tyd is vir ons om saam met ons instrukteurs te spring, het my maag so ’n paar keer behoorlik omgedop.
“Tog was dit ’n ongelooflike lekker ervaring toe ons eers gespring het en die valskerm oopgegaan het. My instrukteur was rustig en ek kon alles inneem en geniet.
“Oor die landing was ek ’n bietjie bekommerd, maar selfs dit het glad verloop en ons het mooi op ons voete geland,” het Alet vertel.
Sy voeg by dat haar bene tog maar baie bewerig was en dat dit gevoel het asof sy vir ’n lang tyd op ’n trampoline gespring het.
Sy vertel ook van die keer, ongeveer drie jaar gelede, toe sy en haar dogter, Amanda Kruger (50), in ’n warmlugballon gaan ry het.
“Dit was net so ’n wonderlike ervaring en iets wat my altyd sal bybly.”

’n Meer snaakse ondervinding was toe sy ongeveer nege jaar gelede in Oudtshoorn vir ’n klompie jongmense ore aangesit het en op ’n volstruis se rug gery het.
“Ons was by ’n volstruisplaas en daar was ’n groepie jong mense wat effe skepties was om volstruise te ry.
“Hulle het my toe aangemoedig om dit eers te doen, en ek het ingestem. Ons het almal lekker saam gelag.”
Alet vertel dat sy en haar man, Tom, gedurig besig is en ook gereeld stap om fiks te bly.
ALSO READ: House robbery in Kenleaf sees woman and child overpowered
“Dit help nie om te gaan stil sit wanneer ’n mens ouer raak nie. Ons vind altyd iets om onsself mee besig te hou,” vertel sy.
Alhoewel sy nie sommer nee sal sê vir enige avontuurlustige uitdaging nie, wil sy in die toekoms graag nog op ’n olifant ry en in Hermanus op ’n boot met ’n glasbodem klim sodat sy kan sien wat onder die see aangaan.
“Ek sal redelik tevrede wees as ek daardie twee aktiwiteite kan beleef, maar wie weet, dalk kom daar nog iets oor my pad en dan doen ek dit ook,” vertel sy laggend.




