Hoërskool Carletonville se o16-hokkiespan wen liga vir derde jaar in ’n ry
Hou hierdie spanne dop.
Twee hokkiespanne van Hoërskool Carletonville het die afgelope naweek aan die finaal van die D2-kleinskoleliga deelgeneem, wat by Hoërskool Monument in Krugersdorp plaasgevind het.
Volgens die skool se woordvoerder, Sandra Venter, het die eerste span, onder leiding van afrigters Zunike Dos Ramos en Delarize Verwey, sterk gespeel en as naaswenners uit die stryd getree.
Die skool se o.16-hokkiespan het egter besonderse prestasie gelewer. Dié span, afgerig deur Alison Muir, het Randfontein High in die finaal met 2–0 geklop en daarmee hul derde opeenvolgende liga-titel ingepalm.
“Hierdie span is beslis een om dop te hou. Hulle het vir die derde agtereenvolgende jaar die liga-finaal gewen,” sê Venter trots.
Hoërskool Carletonville se hokkieprestasies wys dat die skool se sportontwikkeling sterk op koers is, met talentvolle spelers en toegewyde afrigters aan die stuur.



