Local newsNews

Seun en twee huurders verskyn saam in hof vir moord op 67-jarige

'n 46-jarige seun het Dinsdagoggend (21 Februarie 2023) in die Vereeniging-landdroshof verskyn vir die moord op sy 67-jarige ma.

Die 46-jarige seun van Charlotte Christine Fenn (67) van Sonlandpark in Vereeniging wat ontvoer, in die kop geskiet en wie se lyk later in ‘n veld naby Redan gegooi is, en twee huurders wat op haar kleinhoewe in Sonlandpark gewoon het, het Dinsdagoggend, 21 Februarie vlugtig in die landdroshof op Vereeniging verskyn in verband met haar moord.

Volgens die klagstaat staan Fenn se seun, Grant du Toit (46), sowel as Quintin Edgar (52), ‘n huurder wat op haar eiendom gewoon het, en Linday Kirton (31), Edgar se saamleefmaat, tereg op aanklagte van moord, ontvoering, menseroof, motordiefstal en opsetlike saakbeskadiging.

Jaco van Heerden, die regsverteenwoordiger wat namens Du Toit optree, het Dinsdagoggend ‘n aansoek ingedien om onder die omstandighede toegang te kry tot die verklarings in die polisie se dossier, sowel as inkriminerende video-beeldmateriaal vir die doeleindes van die borgaansoek.

Van Heerden het aangevoer dat toegang tot dié inligting hand-aan-hand loop met Du Toit se reg op ‘n regverdige verhoor.

Landdros Chris Kruger het die saak tot Donderdag 23 Februarie uitgestel om die staat kans te gee om voor te berei om op die aansoek te reageer.

Quintin Edgar (52) en sy saamleefmaat, Linday Kirton (31), het glo by die oorlede, Christine Charlotte Fenn (67), gehuur. Hulle staan saam met Fenn se seun, Grant du Toit (46) tereg op moord en verskeie ander aanklagte. Foto: Christiaan Cloete

Die polisie het Maandag, 6 Februarie Fenn se lyk in ‘n veld gevind nadat sy Vrydag, 3 Februarie deur haar kleinkinders as vermis aangemeld is.

Volgens die polisie het sy skietwonde aan haar kop gehad.

Fenn, wat tuindienste aan mense in die omgewing gelewer het, het Donderdag, 2 Februarie spoorloos verdwyn. Sy was glo met haar wit Kia bakkie in die rigting van die R59 op pad.

Die oorledene se uitgebrande bakkie is later op ‘n plaas naby Sasolburg gevind.

Edgar is in hegtenis geneem nadat kringtelevisie-beeldmateriaal ontdek is wys hoe Fenn se voertuig kort voor haar moord deur ‘n Opel Kadett, wat aan Edgar behoort, op die R59-snelweg agtervolg word.

Fenn se liggaam is later naby Redan ontdek.

Die 67-jarige Charlotte Christine Fenn is vermoor, haar voertuig is aan die brand gesteek en haar lyk is in ‘n veld by Redan gegooi. Daar was volgens die polisie skietwonde aan haar hoof. Foto: Verskaf

Die polisie het daarna vir Du Toit, Edgar en Kirton in hegtenis geneem.

Volgens Fenn se dogter, Renee Gericke (49), het die oorledene nog op 67-jarige ouderdom gewerk sodat sy haar 46-jarige seun (wat nou op moord teregstaan) en dogter, Lorraine Venter (50), kon versorg.

Venter is serebraal verlam en word by die Forrest Farm-sentrum in Sandton, wat na serebraal gestremde pasiënte omsien, versorg.

Fenn het die versorgingskoste betaal toe sy nog geleef het.

 

Grant du Toit (46) staan saam met twee medebeskuldigdes tereg op die moord op sy 67-jarige ma. Foto: Christiaan Cloete
Grant du Toit (46) wat teregstaan op die moord op sy ma, Charlotte Christine Fenn (67) in die landdroshof op Vereeniging. Foto: Verskaf

Volgens Gericke het Du Toit op 46-jarige ouderdom nog by sy ma gewoon omdat hy as kind klompvoete, ‘n misvorming van die normale voet, gehad het en van mening was dat hy nie in staat is om te werk nie.

Gericke sê: “Hy het klompvoete gehad toe hy gebore is, maar het spesiale skoene gedra vir omtrent twee jaar en toe het sy voete weer reggekom.

“Daar was niks fout met sy voete nie, maar hy het bly aandring dat hy ‘n gebrek het,” vertel sy.

Amukelani Rikhotso tree op namens die staat.

Willem Smith tree op namens Edgar en Tanya Barnard namens Kirton.

Grant du Toit (46) was een van twee volwasse kinders na wie sy ma omgesien het. Grant se suster, Lorraine Venter, het serebrale verlamming en is in ‘n verorgingsoord in Sandton. Foto: Verskafhttps://vaalweekblad.com/156317/seun-en-twee-huurders-verskyn-saam-in-hof-vir-moord-op-67-jarige/?fbclid=IwAR2uek7IqNtuSvhpEAwSdPiDAXebmwuWonlDaO_JY9pxO0dHdPq6sT5f68g

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button