Local newsNews

Katter-kind na ses jaar terug, net om weer te verdwyn

Mense wat dalk vir Kerneels sien, moet hom nie self probeer vang nie omdat hy baie verskrik is.

Wat eers soos ‘n sprokie geklink het, het die afgelope week in ‘n nagmerrie vir ‘n inwoner van Fochville ontaard toe sy haar liefling kat wat sy na ses jaar teruggekry het weer verloor het.

Suzette Klopper het haar swart en wit kat, Kerneels, sowat agt en ‘n half jaar gelede as ‘n klein, vermaerde diertjie agter die Carletonville Poskantoor opgetel. Sy het hom laat steriliseer en seker gemaak dat hy gesond en gelukkig is.

Kerneels, wat ‘n kenmerkende swart neusie en kussingkies onder sy pote het, was ‘n gelukkige deel van haar gesin, maar het in 2018 per ongeluk uitgekom toe sy besig was om van Carletonville na Fochville te trek. Klopper het verskeie advertensies waaronder in die Herald, op sosiale media en selfs by die Carletonville DBV opgesit in ‘n poging om Kerneels te kry. Omdat hy glad nie Fochville geken het nie was sy nie seker wat van hom sou word nie.

“Ek het later regtig nie gedink ek sou hom ooit meer kry nie,” sê Klopper.

Sy het amper op haar rug geval toe haar dogter sowat twee weke gelede in Garsstraat loop en ‘n kat in ‘n tuin sien wat sy seker is Kerneels was. Klopper het self gaan kyk en gesien dat die gehawende dier wel haar liefling kat was. Sy het ‘n hok by die DBV gehuur om Kerneels, wat heeltemal wild en verwilder was, te vang.

Groot was haar geluk toe die eienaars van die huis waar die hok was, haar Vrydagaand laat weet het dat hy uiteindelik in die hok was. Sy het Kerneels dadelik na haar huis in Rooibosstraat aan die ander kant van die dorp geneem, waar allerlei nuwe speelgoed en heerlike kos op hom gewag het. Hy het selfs Saterdag ‘n spesiale nuwe drie-verdieping hok betrek wat aanlyn vir hom bestel is. “Hy het so gemaklik in die hok gelyk en hy my oudste ander kat, Maxi, het mekaar dadelik herken. Ek was geadviseer om hom vir vier weke binne die hok te hou en het dit langs my bed gesit,” vertel Klopper.

Die sprokie het egter in ‘n nagmerrie ontaard toe Kerneels Sondagoggend omstreeks 04:00 uit sy nuwe hok gekom het. Dit blyk dat twee van die tralies onder in ‘n hoek los was en hy kon dit wegdruk en uitkom. Die kamervenster was as gevolg van die hitte oop en hy het daar uitgespring. Hoewel Klopper tot in die tuin agter hom aan gehardloop het, het Kerneels oor ‘n muur gespring en in die donker verdwyn.

Die hoop nou is dat Kerneels, wat al ouer begin word, niks sal oorkom tot hy weer gevind word nie. Enige iemand wat hom sien, moet asseblief dadelik vir Klopper by 072 477 9540 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button