Twee mans sterf toe ligte vliegtuig naby Fochville neerstort
Die twee insittendes was reeds dood toe nooddienste die wrak in die Losberg-omgewing bereik het.
Twee mans is gistermiddag (Saterdag 27 Junie) dood nadat hul ligte vliegtuig naby Fochville neergestort het.
Die ongeluk het in die Losberg-omgewing plaasgevind.
Volgens die Aeronautical Rescue Coordination Centre (ARCC) is ambulanse van Gauteng Noodmediese Dienste, ER24 en Netcare911 na die toneel ontbied. Helikopters van Netcare911 en Rocket HEMS is ook op bystand geplaas indien hul hulp benodig sou word.
Albei mans aan boord van die vliegtuig was egter reeds dood toe paramedici op die toneel opgedaag het.
Verskeie ander owerhede en nooddienste, onder meer die Fochville GPF, die polisie se lugvleuel en honde-eenheid, het ook met die reddingsoperasie gehelp.
Sover vasgestel kan word, kom die oorledenes nie uit die Fochville-omgewing nie.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en sal deur die polisie ondersoek word.
Ons innige meegevoel gaan aan die oorledenes se families en geliefdes.



