EntertainmentLifestyle

Jak trek sy liedjieskryf skoene aan

“Dis ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag.”

BEKENDE Afrikaanse sanger, skrywer en TV-persoonlikheid, Jak de Priester, gaan die temalied vir die nuwe Koos Roets film, Hoener Met Die Rooi Skoene, skryf en sing.

Jak se loopbaan het in 2003 begin, nadat hy die ATKV Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album getiteld, Sally Williams Nougat, op te neem. Dertien jaar, agt albums, een digbundel, ’n koffietafel-woordkunsboek en verskeie verhoogproduksies later, is Jak se loopbaan steeds besig om te groei.

“Ons is ongelooflik opgewonde om Jak de Priester aan boord te hê,” het Alishia van Deventer van Starburst Promotions gesê. “Toe die vervaardigers vir my gevra het om iemand te vind wat die temalied vir die film kan skryf en sing, het ek dadelik aan Jak gedink! Sy talent en skryfvermoë is ongelooflik en hy het binne ’n paar dae die basis van die liedjie vir my gestuur. Ek het dadelik geweet dit is die regte besluit en Jak was aan boord!”

Jak vertel: “Dit is vir my baie lekker en ’n groot eer om betrokke te wees by die skryf van die temaliedjie vir Koos Roets se film. Ek het lanklaas iets vir TV of ’n fliek geskryf, so ek was baie opgewonde toe Alishia my kontak om te hoor of ek betrokke wou wees. Dit was ’n uitdaging omdat ek nog nie die film gesien het nie, en die liedjie moes skryf met slegs die mediavrystelling en rowwe weergawe van die lokprent tot my beskikking. Ek het wel dadelik besef dat dit so ’n bietjie van ’n vyftigs-gevoel moes hê. Die feit dat hierdie ’n riller-komedie is, het my dadelik laat voel dat dit meer lewendig moet wees en die titel van die fliek is ook dadelik ’n liriek wat lekker op die oor val. Ek hoop dit doen eer aan die film self en vertel ’n lekker storie wat mense opgewonde gaan maak om die fliek te gaan kyk.”

Hoener Met Die Rooi Skoene gaan kykers laat regopsit, ril en skaterlag.

“Dis ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag,” het Lizz Meiring, wat die rol van Bonnie van der Byl vertolk, verduidelik.

Bonnie is ’n ontvangsdame van die internasionaal-bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand lustig voorklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle – maar minder gewilde – sakeman en impresario, Du Toit de Waal (Deon Lotz).

Sy tref hom, met ’n dolk in sy rug, agter sy lessenaar aan en skakel dan dadelik die polisie. Nadat sy haar bebloede baas van naderby beskou, word sy oudergewoonte flou. Wanneer sy met die flitslig van Konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld.

Dit dek die tafel vir ’n spannende skreeusnaakse riller-komedie vol verrassende kinkels, waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai (Napoleon) en die hoogsbeneukte, geïrriteerde en grieperige speurder, Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan.

Gasspelers insluitend Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword is ook te sien in Hoener Met Die Rooi Skoene, wat op 27 Januarie landswyd vrygestel en versprei word deur Ster-Kinekor Entertainment.

Luister hier na ’n lusmaker van die liedjie: 

*Verskaf deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier: 079 404 5789.

Related Articles

Back to top button