Editor's choiceEntertainmentLocal LifestyleNews

Porchie se kaleidoskoop van kleur nou in boekvorm

Die groot man met die wit jurk en voorskoot waarop sy eie kuns geverf is, sit hier in die voorportaal van die Atterbury-teater in Pretoria by ’n tafel. Hy gesels en skryf voor in die boeke wat sy aanhangers pas gekoop het.

Porchie is ouer, maar steeds die sagmoedige en nederige mens wat ek jare gelede ontmoet het.

Die immergewilde kunstenaar het 24 jaar gelede agter op een van sy skilderye vir my ’n boodskap geskryf. Dit was net na die geboorte van my seun en die skildery was ’n geskenk vanaf my kind se pa.

Porchie se lewenslustigheid is aansteeklik.

Ek het hom daarna vlugtig ontmoet voordat hy saam met my sussie en nog ’n vriendin Amerika gaan plat toer het.

Dit wemel van mense hier in die voorportaal van die teater so op ’n Sondagmiddag (28 April). Almal is hier om te kom luister na grepe uit Porchie se deurwinterde lewensreis wat in sy memoires (gedenkskrif) weergegee word.

Porchie se memoires wat bekendgestel is.

Die kunstenaar het onlangs sy 60ste verjaardag in die Kaap waar hy woon, herdenk met die bekendstelling van sy boek Van Tweeling na Trafalgar.

In die Atterbury-teater sit Porchie op ’n rusbank met ’n mikrofoon in die hand. Skuins voor aan sy regterkant is die sanger Jak de Priester wat hom vrae vra en dan gesels Porchie en vertel meer oor sy memoires.

Hy begin met sy kinderjare in Springs en die groot trek van sy gesin na die klein dorpie Tweeling in die Vrystaat. Tussen die vertellinge sing Jak sielvol. Die gehoor is vasgenael en meegevoer en soos die lewensgrepe en sang vorder is daar ook diegene in die gehoor wat ’n traan wegpik, dalk terug dink aan hul eie reis.

Hy vertel van sy gesin se gespartel om kop bo water te hou en ook van sy ouers se groentewinkel. Groente in sakkies verpak was deel van sy daaglikse handel en die koms van televisie het gesorg dat talle inwoners saans by sy ouerhuis bymekaar gekom het en so saam met televisie kyk gehelp het om die goentepakkies op te maak. Daar was immers net drie wonings met televisies op die dorp.

Sy enorme potlooduitstalling.

Hy prys sy ma se deugde. Sy het gesorg dat die eetkamertafel met sy twintig sitplekke Sondagmiddae vir baie dankbare borde kos gesorg het.

Porchie het sy hoërskoolloopbaan begin by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en dit is ook toe dat hy sy kunstalent ontdek het. Hy neem buitemuurse kunsklasse teen net R5 ’n les en werk hoofsaaklik met klei. Hy vertel dat sy senior in die koshuis vir hom gevra het wat doen sy ouers, en toe hy antwoord hul verbou en verkoop groente in Tweeling, het die senior aan hom gesê dan moet hy Portugees wees. Dieselfde senior het later die bynaam verkort na Porchie en het hy die naam as sy eie aangeneem.

Interessante dekor.

Op Universiteit bly kuns sy stokperdjie, maar dit was eers kort nadat hy in Johannesburg begin werk, dat hy sy werke begin uitstal en verkoop het. Die aanvraag vir sy skilderye het vandaar af vinnig gegroei. Hy vertel ook hoekom die bome in sy skilderye blou is en meer oor die verskeie helder kleure wat hy op sy skilderdoeke gebruik.

Porchie verwys na die merkers wat oral in sy lewe opgeduik het en hom in die rigting gestuur het tot waar hy vandag is.

Dit is duidelik hy omring hom met dit wat hom gelukkig maak. Sy kuns is nie net verewig op skilderdoeke nie, maar daar is ook vadoeke, bekers, borde, skinkborde en allerlei items. Sy kunswerke is ook te koop en te sien in verskeie lande oorsee.

Porchie is ’n kunstenaar wat inspireer en ook terug ploeg waar daar armoede is. Sy memoires is veel meer as net sy lewensverhaal, daar is pragtige foto’s van sy skilderkuns en selfs resepte wat hy deel.

Die boek is deur Tafelberg Uitgewers moontlik gemaak en kos R295. Die boek kan bekom word by groot boekwinkels soos Exclusive Books, Bargain Books en Graffiti.

Related Articles

Back to top button