Crime

Raak betrokke en hou jou buurt veilig

Die flitsende wit ligte wat snags deur Modimolle se strate ry is daar vir inwoners se veiligheid.

Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Sektor 2, wat die woongebiede van wyk 11 en 12 insluit, is weer aktief en doen ’n beroep op inwoners om by hulle aan te sluit en die woonbuurt te beveilig.

“Sedert die GPF gereeld patrollie ry, het die gevalle van kabeldiefstal drasties afgeneem,” het Ben Scott gesê. Gedurende hul nagtelike patrollies ry hulle gereeld verby brandpunte soos die nywerheidsgebied en transformators. “Hoe meer inwoners betrokke is, hoe minder gereeld hoef elke lid patrollies te ry,” het Scott gesê.

Diegene wat nie self patrollie kan ry nie, maar die GPF wil ondersteun, kan geldelike bydraes lewer. Agt patrollies van twee ure elk kos sowat R1000 aan brandstof.

“Ons is dankbaar vir elke onderneming wat ons brandstof help borg,” het Scott gesê.

Die landwye netwerk van GPF’s word in samewerking met plaaslike polisiestasies op die been gebring. Op hierdie wyse word die gaping tussen die publiek en die polisie oorbrug in ’n poging om misdaad te bekamp.

Die GPF in Sektor 3 sien om na die plase en Sektor 1 sluit die woongebiede in Phagameng in.

Koos Pretorius is verkies as die voorsitter van Sektor 2 se GPF, met Willem Palm as die ondervoorsitter. Arno Odendaal en Marelize Kussman doen die administrasie en Odendaal sien saam met Scott om na die finansies. Riaan Holtzhausen en Jan Norval reël die patrollies. Die ander lede is Wim Wagner, Steven Rabie, Manus Cilliers en Amanda Scheepers.

Vir meer inligting of om brandstof te borg, kan inwoners Kussman skakel by tel. 060 819 1503.

Related Articles

 
Back to top button