BusinessLocal LifestyleLocal news

Nuwe mini-sentrum ’n aanwins in Mookgophong

’n Jarelange droom het vir dr. Jacques Fourie en sy vrou, Lizette, van Mookgophong waar geword toe hulle ná 36 jaar hul eie spreekkamers kon betrek.

“Dit is vir ons ’n nuwe begin en ons is baie dankbaar. Ons het besluit om terselfdertyd ook ’n vertoonlokaal vir plaaslike kunstenaars te skep, daarom hang daar in die portaal ’n gedig van Johanette Pretorius, ’n skildery wat daarby pas van Corietha Müller en ’n beelhouwerk van Surita Steenkamp,” het Jacques gesê.

Johanette is ’n digter en onderwyser van Hoërskool Hans Strijdom en haar digkuns is al op LitNet in ’n digbundel gepubliseer. Sy is tans hard aan die werk om ’n opvolg bundel vry te stel. Corietha en Surita is gevierde kunstenaars uit eie bodem.

Johanette Pretorius, Lizette en dr. Jacques Fourie.

Volgens Billy en Anet Law, eienaars van die nuwe sentrum, het hulle besluit om die ou bestuurdershuis van die hotel, wat op die perseel staan, te omskep in ’n kleiner sentrum en vir dié ’n nuwe baadjie aan te trek. Die ou Naboomspruit Hotel, wat ook plek gemaak het vir nuwe ondernemings, se outentieke dakpanele hang in die spreekkamer in stille herinnering aan ’n ander bekende dokter in die kontrei, Eugene N. Marais, wat dikwels daar oornag het wanneer hy met sy perdekar vanaf die plaas Rietfontein na Modimolle (toe Nylstroom) gereis het.

Die sentrum maak ook plek vir ’n juwelierswinkel en ’n bekende prokureur van die dorp.

Die nuwe gebou is op Donderdag 31 Augustus tydens ’n gesellige byeenkoms geopen en inwoners is baie opgewonde oor die nuwe sentrum wat genoeg parkering bied.

“Dit is werklik ’n aanwins vir die dorp en ons is trots op die nuwe uitbreidings wat tans aan die gang is,” het een van die gaste by die opening gesê.

Related Articles

 
Back to top button