Local newsNews

Man dood: Hospitaal weier hom 4de keer

’n Siek man is die afgelope week oorlede nadat die F.H. Odendaal Hospitaal in Modimolle vier keer geweier het om hom op te neem.

Die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle.

Die 37-jarige Louis Oosthuizen is gedurende die oggendure op Maandag, 18 Maart tuis oorlede, nadat familielede herhaaldelik probeer het dat hy in die hospitaal opgeneem word, het Wiets Botes, ’n familielid, aan Die Pos gesê.

Louis Oosthuizen. Foto verskaf

Oosthuizen, wat jarelank reeds gesondheidsprobleme het, se toestand het twee weke gelede skielik versleg. Vriende het hom op Dinsdag, 12 Maart hospitaal toe geneem, maar die personeel wou hom nie opneem nie. Sy familie het op Woensdag, 13 Maart ’n ambulans ontbied om hom hospitaal toe te neem, maar die hospitaal het hom terug huis toe gestuur.

Oosthuizen se ma, Annelie Oosthuizen, is weer Donderdag met hom terug hospitaal toe. Nadat hulle die hele dag daar spandeer het, is hy steeds nie opgeneem nie, het Botes gesê.

“Ek het die bestuur van die hospitaal Vrydag gekontak en verduidelik dat sy toestand ernstig is. Hulle het gesê dat hy moet inkom,” In daardie stadium was Oosthuizen so verswak dat hy nie meer kon loop nie en gesukkel het om asem te haal. Teen 17:00 is hy steeds nie opgeneem nie en sy ma het hom huis toe geneem. Volgens die familie wou die hospitaal hom nie opneem nie, omdat hy glo nie siek genoeg was nie.

“Twee goeie vriendinne van Louis het Sondag by hom gekuier en vir hom gelees. Hulle het hom gewas en vir hom skoon klere aangetrek sodat hy gemaklik is. Hy is deur die loop van die nag tuis oorlede,” het Botes gesê.

Oosthuizen laat sy ma Annelie Oosthuizen en suster Anja Coetzer agter.

Botes, ’n DA-raadslid, het gesê dat die voorval vir die hele familie baie ontstellend was.

Desiree van der Walt, DA-kiesafdelingshoof vir Limpopo, het die LUR vir gesondheid, Phophi Ramathuba, in ’n brief gevra om die voorval te ondersoek. “Daar is die afgelope tyd herhaaldelike voorvalle soos hierdie in die provinsie en dit skep kommer oor die kwaliteit van gesondheidsorg wat inwoners ontvang. Net ’n paar maande gelede was daar ’n geval van ’n pasiënt wat by die ingang van die Northam-kliniek dood is nadat personeel nie die persoon wou opneem nie.

Van der Walt het gesê dat regsaksies as gevolg van sulke voorvalle die departement miljoene rande uit die sak jaag.

“Die departement se totale regskoste het R63 145 941 beloop, met die koste van eise teen hulle R266 804 823. Daar was 903 regsmediese eise teen die departement ingestel. Die regskoste van die provinsie se gesondheidsdepartement is die hoogste in die land,” het sy gesê. “Toegang tot gesondheidsorg is ’n fundamentele reg en ons monitor enige klagtes van pasiënte wat toegang tot gesondheidsdienste geweier word om te verseker dat amptenare verantwoordelik gehou word.”

Die Pos het op Maandag, 18 Maart navrae aan die hospitaal en die provinsiale gesondheidsdepartement gerig oor die voorval, asook die kriteria waaraan pasiënte moet voldoen om opgeneem te word. Teen Dinsdagoggend is daar nog nie terugvoer ontvang nie.

Related Articles

 
Back to top button