Local news

Oud-Bela-Bela-inwoner skielik oorlede

’n Bekende Waterberg-inwoner, Martiens de Jonge (77) is op Maandag, 6 Mei in die vroeë oggendure by sy huis oorlede nadat sy gesondheid onlangs drasties verswak het.

Martiens en sy vrou Wilma de Jonge het in 1980 na Bela-Bela verhuis van die Vaaldriehoek af. Hy was ’n elektrisiën by Eskom en het op die hoogspanningslyne in die Waterberg-omgewing ge-
spesialiseer.

Die egpaar het in 2018 na Kokanje-aftreeoord in Modimolle verhuis nadat hul spog grasdakhuis in die Tweefontein-omgewing in ’n weghol veldbrand verwoes is.

Martiens sal altyd onthou word as ’n vriend van Hoërskool Warmbad, waar sy drie kinders, Christo, Willie en Marthinette skoolgegaan het en sy vrou jare lank skoolgehou het. Hy was ’n meester storieverteller en het dikwels as Voortrekkerkommandant en offisier die kinders om die kampvuur vermaak met staaltjies. Sy hand het vir niks verkeerd gestaan nie en hy het briljante planne gehad as dit by vlot bou kom. Sy Voortrekker-span, die Koedoes, het dan ook vir baie jare die vlotvaarte op die Roodeplaat-dam buite Pretoria gewen. Hy het graag die leerders bygestaan met praktiese raad en tegniese vaardighede wanneer hul projekte bou vir die strawwe nasionale kompetisies van Eskom se Expo vir jong wetenskaplikes.

Hy het destyds nie die moeite ontsien om ’n publieke vervoerpermit te bekom sodat hy die natuur- en skeikunde leerders van Hoërskool Warmbad met die skool se bussie kon vervoer op uitstappies na Pretoria en Johannesburg. Die leerders kon ‘oom Tinus’ se arm altyd draai om laat in die nag by die oorbrug stil te hou vir ’n sappige burger of draairoomys.

Hy was ’n kranige gholfspeler en was gewild om ’n vierbal-span op te maak. Hy het ook graag saam met sy seuns en kleinseun gholf gespeel en gaan jag. Hy het op sy oudag ook ’n talent vir skilder ontdek en het die mooiste dierestudies geverf.

Maar dit is as gesinsman wat hy baie diep spore getrap het en met Bybelse riglyne aan die hoof van sy gesin gestaan het. Hy was een van ’n identiese tweeling en het baie hegte bande met sy familie gehad.

Sy begrafnis is Vrydag, 10 Mei op die plaas Kierieklapper buite Bela-Bela.

Related Articles

 
Back to top button