Kinders moet hierdie nie misloop nie
Lefra Produksie bied die nuwe Liewe Heksie vertoning by die Live Arts Little Theatre in Boksburg aan.
Lefra Produksies toer reeds sedert 2009 met baie suksesvolle Liewe Heksie-produksies.
Twee nuwe Liewe Heksie stories het nou die lig gesien en die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats besoek die Live Arts Little Theatre in Boksburg op Saterdag, 5 Maart, om 9vm.
Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, is verlede jaar oorlede en het kort voor haar dood ’n splinternuwe storie spesiaal vir Lefra Produksies geskryf.
So is die nuwe Heksie-teaterproduksie, Liewe Heksie en die Tuindwergie, gebore.
“Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ’n tuindwergie ontmoet en wou sien wat Heksie met die tuindwergie doen,” het Verna destyds gesê.
Voor die pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer.
Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf.
Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwergie ontmoet toe hy een oggend in Heksie se tuin wakker word.
Vier uiters talentvolle akteurs gee lewe aan die Liewe Heksie-karakters op die verhoog.
Ana van Achterbergh speel die rol van Liewe Heksie. Botha Enslin speel die rolle van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat, Botterblom en Koning Rosekrans. Marissa Claassen is te siene as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans.
Phillru van Achterbergh vertolk onder andere Casper, die tuindwergie, Borrie die Gifappeltjie, Karring en Klein Kwaaitjie.
Vir meer inligting skakel Lefra Produksies by 011 815-3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com
Other articles you may be interested in:
Snow White comes alive on stage
Enjoy the Prince of Fado live on stage



