Bed op wiele ry van Heidelberg na Durban in 1964
Jool fondsinsamelinge by die HOK het kreatief geraak, vernaam in 1964 toe 'n bed op wiele gery het van Heidelberg na Durban.
Soos die oud-studente van die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) terugkyk op gebeure en tradisies in die aanloop tot hul 60-jaar-reünie in 2027, bly die koshuisbed op wiele een van die grootste hoogtepunte.
In 1964 het die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) die Jool fondsinsamelinge ‘n stappie verder gevat, met ‘n koshuisbed op wiele wat van Heidelberg na Durban gestoot is.
Jool by die HOK is elke jaar in September gehou. Dit was ‘n week-lange proses omdat al die Oos-Randse dorpe besoek is vir fondsinsamelinge.

Boksburg, Brakpan, Benoni, Springs, Nigel en Heidelberg is almal besoek, en HOK was ‘n baie populêre kollege vir studente van die platteland afkomstig.
Pieter Roodt, ‘n oud-student, het gevoel dat die kollege behoorlik geadverteer moet word, en tydens Jool is die perfekte geleentheid gewees om iets buitengewoons te doen.
Sy inspirasie: ‘n artikel in die Guiness Book of World Records. Hy het besluit om die bed Durban toe te stoot.

Piet Greyling van Landman Implemente, wat ook op daardie tyd die burgermeester van Heidelberg was, is deur Roodt genader oor hoe om te begin. Saam met Greyling en sy ingeneur is daar besluit om ‘n 1928 Austin kar se stuurwiel, remstelsel en wiele op die staal raamwerk van ‘n koshuisbed te monteer.
Daar sou addisionele raamwerk aangeswys word vir bagasie, en die onderste deel is toegemaak met bord waarop advertensies gedruk is.
‘n Student het die bed, matras, kussing, lakens en deken by een van die koshuise “geleen” gekry, en ‘n kunsstudent het die advertensies op die borde geverf.

By Sarel Nel se sportwinkel is die nodige klere en skoene gekry.
Die Transvaler, toe die nasionale koerant, het voor die vertrek ‘n berig en foto geplaas van die vier bed stoters: Deon Visser, Callie Weyers, Frans du Toit en Roodt, saam die joolkoningin Anneline Visagie.
Daar is verder gereël om op ‘n daaglikse basis berigte oor die vordering van die toer uit te saai en in koerante te plaas.
Op hierdie stadium was die hoër gesag van die kollege “geskaakmat” en was daar geen keer aan die groep nie.

Op die eerste dag, Donderdag 3 September, is die bed van Heidelberg na Balfour in 36 kilometers. Voor aan die bed het ‘n “pie pot” gehang, genaamd Ou Koos, wat as kollektebus gebruik is.
Bier en biltong was die padkos, en om 15:00 oorhandig Greyling burgemeestersbriewe van die dorpe waar die groep sou oornag. ‘n Bottel vonkelwyn seën die rit deur gebreek te word aan die voorkant.
Daarna val die studente in die pad met ‘n groot gejuig, “’n donkiebrekfis op die kop” en tekkies, met Weyers aan die stuur. Visser is met ‘n tou om die lyf aan die katelreling vasgemaak agter, en du Toit en Roodt stoot van agter.

Met 3 September agter die rug, het die groep 4 September 76km na Standerton gereis. Daarna op die volgende dae sou hulle 85km na Volksrust, 59km na Newcastle, 108km na Ladysmith, 99km na Mooirivier, 63km na Pietermaritzburg, en uiteindelik 85km na Durban.
‘n Totaal van 611km sou gereis word, aangesien die N3 snelweg nog nie bestaan het nie.
Daar is reëlings getref indien die reis enigsins gestaak moes word langs die pad dat die bed gestoor word en die studente vervoer sal word na hul volgende bestemming, maar met die nasionale media aandag en ondersteuning van die gemeenskappe en boere langs die roete was dit nie eers nodig nie.
Die reëlings is amptelik getref deur die kantoor van die burgermeester, met Piet Boonzaaier wat die plaaslke verkeershoof was, wat gesorg het dat dit toegepas word.
Daar was ook gereël dat Theo Gerdener, die administrateur van Natal, deel van die ontvangs sal wees in Durban, aangesien Greyling en Gerdener vriende en bure in hul Margate vakansiehuise was.
Op die grens tussen Transvaal en Natal tref die groep moelikheid aan, en word hulle verbied om die bed op Natalse paaie te ry, maar ten spyte van grootskaalse terugslag van die publiek, sommiges het selfs geweld gedreig, en harde werk agter die skerms deur beamptes, is daar vasbeslote vertel dat hulle nie toegelaat sal word nie.

Op 9 September draai hulle om, om terug te stoot Heidelberg toe. Hulle oornag in Standerton en Greilingstad, en land weer in Heidelberg om 11 September met glimlagte.
Greyling was ongelukkig met die uitkomste van die reis, maar het die studente vertel dat die gemeenskap trots was op die groep se besluit om nie tou op te gooi nie.
Daarna vind die groep uit dat die werklike rede hoekom hulle nie oor die Natal grens kon gaan nie, was omdat die Universiteit Pietermaritzburg self ‘n bed Durban toe gestoot het.
Hulle het aanspraak gemaak dat hulle spoed van 4.83km per uur ‘n wêreldrekord was, maar die HOK vier kan steeds met trots sê dat hulle die grootste advertensieveldtog ooit vir ‘n tersiêre instansie met sukses voltooi het.
Hulle het op die ou end 392km gereis in 50 uur en 5 minute teen ‘n gemiddeld van 7.84km per uur.




