GalleriesNewsSchoolsSchools galleries

Volkie matrieks hou kerk

Matrieks moet spel van die lewe reg speel sê leraar.

Hoër Volkskool se matrieks en hul ouers het ‘n kerkdiens op 16 Oktober by die Klipkerk bygewoon. Ds Bennie de Klerk het met die matrieks oor die spel van die lewe gepraat.
Hy het gesê dat die matrieks ná 12 jaar op die skoolbanke gereed is om die spel van die lewe te speel en hulle uitgedaag om dit enduit sinvol en suksesvol te speel.
Ds De Klerk het gesê dat volgens Jacobus daar twee modelle van wysheid is waarmee die spel van die lewe gespeel kan word. Daar is aardse- of hemelse wysheid. “Jy moet self besluit watter een jy gaan kies. By aardse wysheid speel God nie ‘n rol nie. God sit nie hier as koning en regeerder op die troon nie. Die eie ek sit daar en hier is jy die middelpunt van jou lewe. Jy gaan gemeet word aan wêreldse standaarde waar daar gekyk word na die rykdom wat jy besit en jy daarvolgens geoordeel word.”
Hy het gesê dat die uiteindelike gevolg van so ‘n lewe is dat mense nie in vrede kan saamleef nie. Jy kom nooit tot rus nie.
Daarteenoor is hemelse wysheid waar God op die troon sit en in beheer van jou lewe is. Die vraag is nie wat jou planne is nie, maar wat die Vader se planne met jou lewe is. God lei en bestuur jou en jy sal goed met jou medemens oor die weg kom. Dié wysheid is volgens Ds De Klerk die vermoë om die spel van die lewe met die regte keuses aan te pak sodat die lewe sinvol en die moeite werd is.

“Julle is nou gereed om die spel van die lewe te speel. Julle moet verantwoordelik wees en dit reg speel,” het Ds De Klerk afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button