
Die AG Visserhuis in Heidelberg is deur inbrekers gestroop. Patrolleerders van Heidelberg Sentraal GPF het Dinsdagaand verdagte voorwerpe aan die agterkant van die huis opgemerk. Hulle het met ‘n skok ontdek dat diewe ingebreek en die huis bykans gestroop het.
Alle elektriese kabels, ligskakelaars, wasbakke en venster- en deurknippe is gesteel. Daar is bitter min van die oorspronklike meubels van Dr AG Visser oor en glaskaste met gedenkwaardighede het ook deurgeloop.
‘n Sekuriteitswag is nou (ná die inbraak ontdek is) aangestel om die huis op te pas. Lesedi Plaaslike Munisipaliteit is tans in ‘n hofstryd met die oorspronklike eienaars, Remgro (die eertydse Rembrandt wat aan die Rupert-familie behoort) gewikkel. Die saak sal glo op 10 Oktober voorkom.
Intussen, wil niemand verantwoordelikheid vir die huis neem nie en geen besluite kan geneem word voor die hofsaak nie afgehandel is nie.
Remgro het die huis in die vroeë 1990s aan die destydse stadsraad geskenk met die voorwaarde dat dit as kultuur-historiese museum bedryf moet word en dat die eiendom nie vervreem mag word nie. Remgro het die munisipaliteit gedagvaar omdat hierdie voorwaardes nie nagekom is nie.