Heidelberg skole ruiters presteer by SA’s
Carlisle Stud & Equestrian Park se ruiters van topgehalte.

Mia Bezuidenhout van Laerskool AG Visser en Liza Uys van Hoër Volkskool het goud in die SANESA nasionale skole ruiterkampioenskappe verower.
Mia en Liza is deel van vyf ruiters van die Carlisle Stud & Equestrian Park wat na die kampioenskappe deurgedring het.
Mia en haar perd Waterford Flash het eerste in die 70cm “stadium eventing” geëindig met Liza en haar perd Capital U2 wat ‘n eersteplek in die 1.1m skouspring kompetisie verower het. Mia het ook ‘n vierdeplek in “eventing” ingepalm. Sy het ook aan die “preliminary dressage” op die perd Lily deelgeneem.
Petrus Bezuidenhout van Hoër Volkskool en sy perd Carlisle’s Titan het ‘n vyfde plek in die 1m “equitation’’ verdien. Hy het ook aan die “preliminary dressage” op die rug van Morgonstond Lorrielle deelgeneem waar hulle ‘n vyfde sowel as sesdeplek ingepalm het.
Adrienne MacDonald-Hutcheson, Graad 2-leerder van Laer Volkskool en Waterford Flash het sesde in die “special dressage” geëindig. Tamara van Vuuren van Laerskool AG Visser was die vyfde lid van die span wat aan die kampioenskappe deelgeneem het.
Behalwe vir Petrus, was dit die ruiters se eerste nasionale kampioenskappe en Volgens Michelle MacDonald-Hutcheson (afrigter) het hulle uitstekend gevaar. “Mia en Liza se eersteplekke beteken dat hulle die beste skoleruiters (in hul onderskeie afdelings) in Suid-Afrika is. Die leerders het lang ure van oefening ingesit en hulle verdien die goeie resultate,” het Michelle gesê.
Sy het ouers, familie, vriende en perdehanteerders bedank vir die bydrae wat hulle tot die ruiters se sukses gemaak het.
Kyk hier na al die foto’s van die kampioenskappe:













