MunicipalNews

Foutiewe rekeninge vir eienaars van landbougrond – maak seker voor jy betaal!

Eers moes eienaars van landbougrond wat binne die grense van Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit val met 'n skok uitvind van agterstallige heffings wat derduisende rande beloop en al in 2009 in werking getree het. Nou blyk dit dat die munisipaliteit boonop dié eiendomsbelasting verkeerd bereken het.

Lynette du Plessis, woordvoerder van Transvaalse Landbou Unie (TLU), verduidelik die situasie waarin talle plaaslike boere hulself bevind as volg: “Alhoewel die munisipaliteit in terme van die Wet op Munisipale Eiendomsheffings vanaf 1 Julie 2009 eiendomsbelasting op landbougrond kon hef, was die meerderheid grondeienaars nooit daarvan bewus nie.” Dít omdat rekeninge glo nie aan almal uitgereik is nie. Volgens Du Plessis blyk dit dat die munisipaliteit nie almal se posadresse op rekord gehad het nie. “Eers teen einde 2013 het Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit ‘n firma aangestel om die eienaars van landbougrond op te spoor. Baie grondeienaars het toe tot hul skok agtergekom van groot opgehoopte agterstallige rekeninge by die munisipaliteit,” sê sy. Du Plessis sê Georganiseerde Landbou het reeds vergaderings met amptenare van die munispaliteit gehou om die kwessie aan te spreek. Volgens haar dui navorsing daarop dat die korrekte koers nie deur die munisipaliteit gebruik was in die berekeninge van landbougrond belasting nie. “Die wet bepaal dat die koers vir landbou eiendomme nie teen dieselfde koers as residensiële eiendomme belas moet word nie en skryf voor dat die koers wat gebruik moet word, 1:0,25 residensiële eiendomme teenoor landbou eiendomme moet wees,” verduidelik sy. Lede van Georganiseerde Landbou kan die inligting by TLU of die Balfour Boere Unie aanvra indien dit nie reeds ontvang is nie. Skakel Lynette du Plessis by TLU se hoofkantoor by 012 804 8031 of Gert Kriek by 083 455 1587 vir meer inligting rakende heffings.
Eienaars van landbougrond, wat nie lede van georganiseerde landbou is nie, en wie se eiendom binne die grense van Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit geleë is, word aangeraai om met die munisipaliteit by 017 773 0055 in verbinding te tree. Volgens Du Plessis moet grondeienaars jaarliks teen Mei seker maak wat die tarief vir die volgende munisipale boekjaar is, ten einde te kan kontroleer dat hulle die korrekte bedrae betaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button