Local newsMunicipalNews

Nigel inwoners keelvol vir gebrekkige dienslewering

NIGEL - HERAUT word gereeld oorval met klagtes deur inwoners wat sê hulle is raadop oor swak dienslewering of algemene gebrek aan instandhouding deur Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (EMM).

Terwyl sommige belastingbetalers sê hul klagtes val op dowe ore, is daar ander wat voel privaat kontrakteurs wat deur EMM se tenderproses aangestel word, is onbevoeg of nie behoorlik gekwalifiseerd om die werk te verrig nie.

So het Mnr Lahri van MacKenzieville op 11 Augustus aan HERAUT vertel hoe kontrakteurs wat deur EMM aangestel is om elektriese kabels vanaf ‘n substasie na ‘n huis aan te lê, ‘n gedeelte van die plaveisel voor sy woning uitgeruk en eenkant gegooi het. Die gedeelte waar die stene verwyder is, behoort aan Nigel Stadsraad, maar Mnr Lahri het op eie onkoste die plaveistene gelê. Van die stene het in die proses gebreek en moet vervang word. “Do residents have the authority to lay a complaint against the municipality for damages in cases such as mine where the property that was damaged, actually belongs to the council?” wou hy weet. HERAUT se navraag aan EMM in dié verband bly egter nog onbeantwoord.

EMM CONTRACTORS (Custom)
In ‘n ander geval het Me Breytenbach, ‘n bejaarde inwoner wat gereeld die graf van haar ontslape eggenoot besoek, vir HERAUT gesê dat sy nie langer kans sien om Nigel Begraafplaas weens die slaggate te besoek nie. ‘n Familielid van haar wat ook onlangs besoek by die begraafplaas afgelê het, was glo uiters geskok oor die toestand van die pad en sê dit steek sleg teenoor ander dorpe se kerkhowe af. In antwoord hierop het DA raadslid Wally Labuschagne gesê dat Nigel Begraafplaas hoegenaamd nie afsteek nie en dat dit in die algemeen in ‘n besondere goeie toestand is, sou hy dit met ander munisipale kerkhowe moet vergelyk.

IMG_6614 (Custom)
Die middedorp is ook geen uitsondering nie en hoewel plaaslike regering ná ‘n besoek aan die kanaal op 30 Junie aangedui het dat die haglike toestand daarvan ondersoek sal word, het inwoners van Eeufeespark Aftree Oord sedertdien geen verdere terugvoer ontvang nie. Met uitsondering van ‘n rioollek wat intussen deur Nigel Stadsraad herstel is, is daar geen verbetering wat die kanaal se toestand betref nie.

Vir maande reeds is daar ‘n oorstoot van rioolwater in Milnerlaan, skuins agter The Angelo Mall. Na nog ‘n klagte deur Mnr Grobler, het HERAUT ondersoek ingestel en vasgestel dat die oorstoot sy oorsprong vanuit die winkelsentrum het. Hoewel navraag aan EMM niks opgelewer het nie, is personeel van die munisipaliteit se departement stormwater op 13 Augustus by die gebied opgemerk.

HERAUT het ook verneem dat die probleem tydens ‘n vergadering tussen gesondheidsinspekteurs en die bestuur van die winkelsentrum bespreek is en dat daar onderneem is om dadelik aandag aan die problem te skenk.

Inwoners soos Mnr EP (skuilnaam) het sy kommer in ‘n skrywe gelug waarin hy sê dat die munisipale park oorkant Dros in Springsweg, met belastingbetalers se geld in ‘n standplaas vir ‘n plaaslike motorhandelaar omskep is. Hy het die gevaar van die sypad wat vanuit ‘n besige interseksie uit die dubbelpad gebou is om by die motorhandelaar aan te sluit, uitgelig deur te sê: “If the public continue to ignore the problem, eventually the access road will be opened to traffic and this will make a very hazardous intersection even more dangerous.”

Terwyl tientalle navrae deur HERAUT meestal onbeantwoord bly, het EMM media woordvoerder Themba Gadebe onlangs ‘n paar riglyne verskaf oor hoe inwoners munisipale klagtes kan indien. Hy het bygevoeg dat elke klagte met ‘n verwysingsnommer uitgereik word en dat inwoners dié nommer byderhand moet hou wanneer klagtes telefonies opgevolg word. Die kliënte dienssentrumnommer is 011 999 9050 en kan gedurende 08:00 en 16:00 weeksdae gebel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button