BlogsLocal newsNewsOpinion

Plaaslike sielkundige gesels oor depressie en selfdood by kinders

Wêreldwyd pleeg al hoe meer jongmense selfdood - dit is dus ook een van die groot oorsake van dood by jongmense.

HERAUT het plaaslike opvoedkundige sielkundige Thea Zwiegers oor selfdood en depressie onder kinders genader en sy sê navorsing toon dat ouers dikwels onbewus is dat hul kinders depressief is en selfdoodgedagtes het.

“Die kern van die probleem is juis dat depressie as ‘n siektetoestand dikwels nie gediagnoseer of behandel word nie, of verkeerd behandel word.”

Volgens Thea is depressie ‘n kliniese verskynsel wat gekenmerk word deur negatiewe verandering van gemoedservaring.

“Dit is ‘n emosionele reaksie wat gekenmerk word deur gevoelens van neerslagtigheid, eensaamheid, verwerping, hulpeloosheid en mislukking. Depressie is ‘n gevaarlike toestand, omdat die moontlikheid dat die persoon homself kwaad kan aandoen, gedurig bestaan,” het sy gewaarsku.

‘n Verswakking in skoolprestasie gepaardgaande met sosiale onttrekking, ‘n toename in dagdromery en klaarblyklike ongelukkigheid behoort volgens haar aan ouers en onderwysers te toon dat ‘n kind moontlik depressief is. Afname in konsentrasievermoë en/of skolastiese prestasie word as een van die vernaamste tekens van kinderdepressie beskou.
Thea het gewaarsku dat wanneer ‘n kind stil en teruggetrokke raak, sy probleem nie maklik in die klaskamer geïdentifiseer word nie en dieselfde kan by die huis gebeur. Sy het ouers daarop gewys dat hul belangstelling egter soms deur frustrasie, ontsteltenis en verwardheid begroet word wanneer hulle probeer om met die kind te praat en hy nie op hul vrae reageer nie.

“Sommige depressiewe kinders kan weer aggressief, vyandig en opponerend raak en kan selfs gesag uitdaag.”

Thea sê die diagnose van kinderdepressie is moeiliker as by volwassenes, maar die mees algemene simptoom is voortdurende ongelukkigheid wat soms met simptome van oor- en onderaktiwiteit, gedragsprobleme en psigosomatiese simptome gepaard gaan. Sy sê dié simptome verbloem dikwels die onderliggende depressie wat die diagnose daarvan moeilik maak.

Faktore wat dikwels aanleiding gee tot depressie kan die volgende insluit: ‘n ouer of ander geliefde wat kronies siek is, ouerlike depressie, afsterwe van ‘n ouer, mishandeling, gestremdheid, leerprobleme, boelies ens.
Na raming ervaar ongeveer 12% van laerskoolkinders met leerprobleme depressie, terwyl dit kan styg tot 20% by hoërskoolleerlinge met leerprobleme. Die voorkoms van depressie neem meer toe soos wat die kind ouer word.

Die volgende kriteria vir die diagnosering van kinderdepressie kan gebruik word:

‘n Depressiewe gemoed, gedrag en voorkoms tesame met vier van die volgende:
* sosiale onttrekking; slaapprobleme;
* moegheid; onder-aktiwiteit;
* verlaagde selfbeeld of oordrewe skuldgevoelens; skolastiese verswakking; eetlusverlies; en
* aanduidings van morbiede en selfdoodgedagtes.

Ouers word egter streng daarop gewys dat die diagnose van kinderdepressie deur ‘n kundige (sielkundige, psigiater of mediese dokter) gemaak moet word vir verdere behandeling. Vir die behandeling van kinderdepressie is medikasie alleen nie genoeg nie en psigoterapie word aanbeveel.

Terwyl depressiewe kinders moontlik ‘n probleem het wat behandeling vereis, mag die probleem sy oorsprong uit ‘n ander oord hê, soos gesinskonflik en ongelukkigheid, ouerlike woede of teleurstelling. Negatiewe emosies word dus aan ander gesinslede soos kinders oorgedra. In so ‘n geval moet die hele gesin by terapie betrek word, omdat die primêre probleem nie anders opgelos kan word nie.

Vir meer inligting, skakel Thea Zwiegers by 082 0575 043.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button