MunicipalNewsBreaking News

Kantoor van raadslid ontruim na plafon inmekaarstort

NIGEL - DA raadslid Wally Labuschagne het sy ontevredenheid oor vrotsige dienslewering deur Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit (EMM) teenoor HERAUT uitgespreek.

Dit volg nadat die plafon van sy kantoor by Nigel Stadsraad op 16 November inmekaar gestort het en hy die kantoor inderhaas moes ontruim. Hoewel niemand beseer is nie, het talle amptelike dokumente en toerusting in die slag gebly.

“My beskikbaarheid tot diens van die gemeenskap word daardeur belemmer. Weens die feit dat geen alternatiewe kantoorgeriewe nog aan my beskikbaar gestel is nie, was ek genoodsaak om persoonlike verlof te neem. Intussen moet ek op eie onkoste kantoorspasie bekom. Dit terwyl ek oor die afgelope twee jaar herhaaldelike versoeke vir beter en toegankliker geriewe aan EMM gerig het,” het Wally gesê.

Dié voorval volg skaars ‘n maand nadat die Alrapark Biblioteek se plafon ook inmekaar gestort het en steeds nie herstel is nie. Sekere aspekte rondom onderhoud van die plafon is gedurende 2014 reeds onder EMM se aandag gebring, sonder enige terugvoer of reaksie. Volgens Nigel Stadsraad word ‘n privaat kontrakteur deur EMM vir die herstelwerk aangestel, maar dit is nog nie duidelik of die tenderproses afgehandel is of wanneer die plafon herstel sal word nie.

ALRAPARK MUNISIPALE SWEMBAD

Alraparkers het ook hul griewe gelug en gesê dit is onaanvaarbaar dat hulle geen nut het van die munisipale swembad wat byna twee jaar lank weens herstelwerk gesluit was nie. As gevolg van tegniese probleme met die filtreringstelsel, het die swembad kort na opening in September weer gesluit en daar was geen lafenis tydens die onlangse hittegolf nie.

“Dis sommer twak hierdie. Die son brand onse kinners stukkend, nou waar moet hulle afkoel? Ons het jare lank gewag vir die bad om oop te maak, maar nou is die hekke weer toe,” het plaaslike inwoner Suliman Chauke  gesê.

By verskeie punte in Alrapark is ‘n kennisgewing aangebring wat as volg lees: “Notice: Alrapark swimming pool is temporarily closed, due to mechanical and technical challenges that the department is addressing. The department apologises for any inconvenience that might be caused.”

HERAUT se navrae aan EMM bly steeds onbeantwoord en dit is onduidelik wanneer die swembad se hekke weer vir die publiek sal oopswaai.

 

Weens die ingestorte plafon in DA raadslid Wally Labuschagne se kantoor in Nigel, was hy verlede week genoodsaak om persoonlike verlof  te neem en is in die proses om alternatiewe kantoorspasie te bekom.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button