Kragtige boodskap ontroer Nigel VLU lede
NIGEL - Lede van Nigel VLU het tydens hul 713de vergadering op 19 Mei, meer oor ongewensde tienerswangerskap en aborsies geleer.
“Daar is geen groter trauma vir ‘n ma as om haar baba na ‘n aborsie te sien nie,” was die openingswoorde van gasspreker Nia Stander van Born2Care se toespraak.
As gasspreker het sy die dames meer omtrent Born2Care vertel en gesê dat tientalle aborsies maandeliks in Heidelberg uitgevoer word. Die organisasie staan jong vroue en meisies in krisisswangerskappe by en gee pre- en post aborsie berading.
Haar kragtige boodskap het die dames ontroer. In haar slotboodskap het sy gesê daar is ‘n eenvoudige oplossing vir alle probleme. “Belydenis van sonde, selfvergifnis en die vergifnis van jou medemens. Verander jou gedagtes van negatief na positief en kies die lewe,” was haar boodskap.
Volgende is die sakelys bespreek, waarna Anne-Marie Axer meer oor die Voël van die Jaar 2016: die versamelvoël, gesels het.
Die vergadering is oudergewoonte met ‘n geselligheid om die teetafel afgesluit.
Die volgende byeenkoms vind op 9 Junie om 10:00 by La Fayette in Irisstraat plaas. Tydens dié byeenkoms word ‘n brooddemonstrasie gelewer en daar is besluit om die geleentheid in ‘n gesellige brood- en sopoggend te omskep.
Belangstellendes wat die vergadering wil bywoon, kan Anne-Marie Axer by 082 886 2002 skakel.
Tydens Nigel VLU se vergadering op 19 Mei het Anne-Marie Axer ‘n demonstrasie op haar skootrekenaar gelewer oor die Voël van die Jaar 2016: die versamelvoël.





