Die DA in Heidelberg bied vir die tweede agtereenvolgende jaar ‘n kultuur-historiese dag aan wat die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 tussen die Boere en Britte herdenk.
Die verrigtinge begin om 14:00 op 31 Mei by Heidelberg Stadsaal van waar belangstellendes op ‘n begeleide toer deur Sybrand van der Spuy na verskeie historiese plekke soos die ou begraafplaas en Ou Tronk gelei sal word (belangstellendes moet van eie vervoer gebruikmaak).
Dr Willie Pretorius sal ná die toer om 16:30 sy nuwe boek ‘Perre toe – wekroep aan die Heidelberg dorpkommando tot aksie’ by die stadsaal loods. Dr Pretorius het ‘n BA Honneurs-, MA-, asook ‘n DPhil-graad in Geskiedenis behaal.
Sy nuwe boek handel oor herinneringe van Marthinus Jacobus (Ouboet) Viljoen, oudste seun van veggeneraal Piet Viljoen (kleinseun van Piet Retief). In wese is dit ‘n samevoeging en verwerking van twee stelle oorlogsgeskrifte van Ouboet. Hierdie dagboeke bied aan die leser ‘n kyk in die kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog en laat die leser met nuwe oë na die dieper betekenis van die oorlog kyk.
Die dag word met ‘n gaslesing deur Dr Jackie Grobler, senior lektor aan die Departement Geskiedenis van die Universiteit van Pretoria afgesluit. Hy sal meer oor kleurryke persone wat deel van die eerste- sowel as tweede Vryheidsoorloë was en in Heidelberg begrawe is, gesels. Verskeie van Dr Grobler se boeke sal ook te koop aangebied word.
Ligte verversings sal beskikbaar wees. Vir meer besonderhede en om vir die dag te bespreek (bywoning is gratis, maar getalle moet bepaal word), kan Gerry Holtzhausen by 082 857 8277 of Martinha Steyn by die DA kantoor by 078 111 8070 geskakel word.



