Sarie Coetser vier haar 90ste verjaardag
NIGEL - Sarie Coetser het op 9 Julie haar 90ste verjaardag gevier.
Dié statige vrou wat in1926 gebore is, woon die afgelope 50 jaar in dieselfde huis en bestuur nog elke dag haar motor. Sy was die hoofkassiere van die destydse Barclays Bank waar sy vir 30 jaar werksaam was, maar Sarie word veral vir haar naaldwerk onthou.
Sarie se eggenoot is in 1989 oorlede. Daar is twee dogters uit hul huwelik gebore en vandag spog sy met vyf kleinkinders.
“Met genade van Bo en ‘n goeie mediese fonds kan ek ‘n vol en geseënde lewe lei,” het sy haar geheim uitgelaat.
Hoewel sy nie meer fynskrif kan lees nie en ietwat met haar gehoor sukkel, is Sarie blakend gesond en aktief. Sy hou haar bedags met die maak van verjaardagkaartjies besig en bak nog by geleentheid ‘n koek of tert.
Haar verjaardagviering was ‘n spesiale noenmaal wat by Nigel Tuiste vir Bejaardes se saal gehou is en ongeveer 68 gaste wat uit vriende en familie bestaan, het dié geleentheid bygewoon.
“Dit was vir my ‘n groot vreugde om al my vriende en familie op my 90ste verjaardag by my te hê,” het sy gesê.



