Duan mik vir Comrades, ondanks verlamming
NIGEL - Duan Nel wat verlede jaar nog vir Nigel Rugbyklub se eerstespan op die veld gedraf het, se lewe het ‘n week voor sy 23ste verjaardag ingrypend verander.

WANNEER HET DIE ONGELUK PLAASGEVIND?
Hy was op 28 Februarie in ‘n veldfietsongeluk betrokke en is sedertdien van sy heupe af ondertoe verlam. Van die ongeluk en die vlug daarna per lugambulans na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg kan Duan niks onthou nie.
Hy het twee dae later eers sy volle bewussyn herwin. Twee weke later het professor Lukhele ‘n operasie uitgevoer om van die vergruisde rugwerwels te herstel, maar na afloop daavan het ‘n beslissende diagnose op Duan gewag – permanente verlamming.
“Skryf dit neer – ek beplan om die Comrades maraton in 2017 te hardloop,” het Duan tydens HERAUT se besoek op 20 Julie gesê.
Sedert sy ontslag ontvang hy tweekeer ‘n week rehabiliterende fisioterapie wat danksy finansiële bydraes uit die plaaslike gemeenskap betaal word. Van die fondse is ook aangewend om struktuuraanpassings by sy woonstel aan te bring om dit rolstoelvriendelik te maak.
Ten tye van die ongeluk was Duan werksaam by ‘n plaaslike maatskappy en het grootliks tot sy familie se finansiële behoeftes bygedra. Weens die skielike verlies aan inkomste was hulle intussen genoodsaak om van hul bates te verkoop.
“Dit is belangrik dat Duan die rehabilitasieprogram voortsit,” het ‘n familievriend Jurgens Bornmann verduidelik.
Koste ten opsigte van die behandeling beloop reeds bykans R600 per week, maar Jurgens het onlangs ‘n fondsinsamelingsprojek in samewerking met Jimmy en Hendriet Georgiou van Ferryvale Spar geloods wat ondermeer die verkoop van worsbroodjies oor naweke insluit.
DUAN HET JOU FINANSIëLE BYSTAND NODIG?
“Dit is moeilik om ‘n vooruitskatting te maak, maar Duan se toekomstige mediese uitgawes sal duisende rande beloop. Ons is dankbaar vir weldoeners uit die gemeenskap wat reeds hul harte en beursies oopgemaak het, maar die familie nog nie genoeg geld ingesamel om toekomstige mediese uitgawes te dek nie,” het Jurgens verduidelik en ‘n beroep gedoen dat enige persoon of instansie wat ‘n finansiële bydrae kan maak, hom by 076 512 8362 sal skakel.
