Polisievroue groet Nigel stasie na onlangse bevordering
NIGEL - Twee van Nigel se geliefde polisievroue verskuif na Heidelberg na bekendmaking van die rangbevordering van sowat 800 polisielede landwyd op 1 Augustus.

Adjudant Offisier Madeleine von Wielligh is alombekend in die plaaslike gemeenskap. Haar loopbaan by die Suid-Afrikaanse Polisiediens het begin kort na sy haar matrieksertifikaat in 1990 ontvang het. Sy was vir etlike jare ‘n bekende gesig by Nigel GPF en was ook aktief by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke.

As polisiewoordvoerder was sy ‘n bekende gesig by misdaadtonele, maar was ook finansiële klerk by Nigel Polisiestasie. A/O Von Wielligh is tot kaptein bevorder en neem op 1 September die leisers by Heidelberg Polisiestasie as finansiële klerk oor.

Nog ‘n verandering by Nigel polisiestasie is A/O Herma Scott wat tot Kaptein bevorder is en op 1 September die leisels as menslike hulpbronne klerk by Heidelberg polisiestasie oorneem. Herma is reeds 33 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Nigel SAPD stasiebevelvoerder se regterhand.
Administratiewe klerk Jesse Moodley het ook bevordering ontvang (Level 7), maar sy bly in haar administratiewe posisie by Nigel SAPD aan.
Stasiebevelvoerder Lt Kol Ntombizini Thete het die vroue gelukgewens en hulle voorspoed toegewens. Sy het gesê hul teenwoordigheid en waardevolle diens by Nigel polisiestasie sal gemis word.