Rensburgers verstom oor voertuig wat op treinspoor beland
Bestuurder ry dwarsdeur doodloopstraat.

‘n Voertuig wat gisteraand net na 19:00 op die treinspoor in Rensburg beland het, het vele vrae laat ontstaan. Inwoners het saamgedrom om dié petalje te aanskou.
Dit blyk dat die bestuurder reguit in Nelstraat, wat duskant die treinspoor doodloop, gery het en toe meters ver teen rotse tot op die treinspoor gestort het. Treine moes tot stilstand gebring word om ‘n verdere ongeluk te vermy.
Heidelberg polisie het nog nie amptelike inligting oor die voorval bekendgemaak nie, maar volgens omstanders het die bestuurder weggehardloop. Daar was glo ook ‘n kind by hom in die motor. Inwoners van Nelstraat kon daarin slaag om die man aan te keer en hy en die kind is na Heidelberg Hospitaal geneem.
Safari Panelbeaters kon daarin slaag om die motor teen ongeveer 22:00 teen die helling uit te trek.
HERAUT hou ons lesers op hoogte.