Geluk Ruben met jou tweede verjaarsdag vandag!
Beenmurgoorplantings: Help Ruben en sy boetie Ruan (6 maande) om nog vele verjaarsdae te vier.

Ruben en Ruan Roodt is twee maande gelede met SCID (Severe Combined Immuno Deficiency) gediagnoseer en het dringend beenmurgoorplantings nodig.
Die gesin benodig egter R750 000 vir die operasies wat in totaal R6 miljoen beloop (die mediese fonds sal R5.3 miljoen betaal) voor die aanvang van winter.
SCID word gekenmerk deur ‘n uiters swak immuunstelsel wat hulle vir enige virus vatbaar maak en die winter hou veral ‘n gevaar vir die boeties in.
Dit is vandag Ruben se tweede verjaardag en hy is as gevolg van die siekte net so groot soos boetie Ruan. Ruan is die afgelope twee weke in die hospitaal met ‘n maagvirus. As alles goed gaan sal hy Vrydag ontslaan word. 
Die twee se pa Pieter vertel dat hulle nooit kon verstaan hoekom Ruben so maklik siek word nie. Hy het ná elke uitstappie verskriklik siek geword en was verlede jaar 54 weke in intensief met Pneumocystis jiroveci-longontsteking. Dis ‘n virus wat mense met ‘n baie swak immuunstelsel aanval.
Ruan is weer met gastroskise gebore. Dit is ‘n toestand waar die baba se ingewande aan die buitekant van sy lyf ontwikkel.
Ná vele toetse het dokters die tweetjies in Desember met SCID gediagnoseer.
‘n Beenmurgoorplanting is al opsie. Geen skenkers kon vir Ruben in Suid-Afrika opgespoor word nie. Agt internasionale skenkers is egter gevind.
57 Internasionale en twee Suid-Afrikaanse skenkers is vir Ruan gevind. Om die beenmurg vir Ruben na Suid-Afrika te bring is ‘n duur storie en die gesamentlike operasiekoste vir die twee beloop R6 miljoen.
‘n Trustfonds is vir Ruben en Ruan gestig. As jy kan help om ‘n verskil in die Roodt-familie se lewens te maak, skakel Pieter by 078 588 8475. Gaan loer gerus na die hier na die webblad om meer uit te vind.
Fondse kan ook aan die Ruben & Ruan Trust Fonds, Eeste Nasionale Bank (FNB) Gold Cheque Account nommer 626 7001 3657 inbetaal word. Gebruik u naam, besigheid of annoniem as verwysing.




