Local newsNews

Vrou skrik groot toe bobbejaan vir middagete inval

Grieta Mitchley wys waar die bobbejaan oor die hek van haar werkplek in Jordaanpark spring.

‘n Vierpotige besoeker het onlangs ‘n dame groot laat skrik toe hy etenstyd op haar voordeur afgestorm het.
Die bobbejaan met ‘n kruppel agterpoot is die afgelope twee maande ‘n gereelde gesig in Heidelberg se residensiële gebied.

 

Grieta Mitchley sê sy het haar boeglam geskrik toe sy onlangs in haar etensuur na haar huis in Hospitaalstraat is. Sy het die voordeur oopgesluit en deur haar sitkamer gestap met die voordeur steeds oop. Toe sy omdraai het die bobbejaan reguit op haar voordeur afgestorm.

“Hy was blitsvinnig en ek het geweet ek sou nie betyds my deur kon toemaak nie. Om een of ander rede het die bobbejaan weggeswenk en op die dak gespring en toe verdwyn.”

 

Grieta sê sy het dieselfde bobbejaan intussen ook by haar werksplek in Uniestraat, Jordaanpark opgemerk.

 

Hy hardloop glo van die parkie se kant af, spring oor die hek en hardloop dan deur die erf. Hy verdwyn gewoonlik net so vinnig as hy wat verskyn het.

 

Grieta meen die bobbejaan is agter vrugtebome in die erf aan, want sy het hom nog nooit in asblikke sien grawe nie.
Die bobbejaan is ook in Bergsig en in Louw- en Jordaanstraat opgemerk.
Dr Steven Olivier (plaaslike veearts) sê die bobbejaan is heel waarskynlik weens sy gebrek uit die trop gestoot. Hy maan inwoners om nie die bobbejaan te konfronteer nie en ook nie kos vir hom uit te sit nie. “Bobbejane is gevaarlik en kan maklik ‘n hond verskeur.

 

Hulle kan ook ‘n mens wat hulle as ‘n bedreiging sien, aanval. Bobbejane eet bykans enigiets. Daar is nou baie meer kos vir hom in die dorp as wat daar in die veld is,” het Dr Olivier gesê.
Sibusiso Thusi van Suikerbosrand Natuurreservaat sê die veld is baie droog en daar is min kos. Hy sê dat inwoners wat die bobbejaan gewaar die reservaat by 011 439 6300 kan skakel sodat ‘n taakspan hom kan vang en verwyder.
Hy het gewaarsku dat die publiek nie self die bobbejaan moet probeer vang of vaskeer nie.

 

Dié bobbejaan met ‘n kruppel agterpoot is deesdae ‘n gereelde gesig in Heidelberg. Kenners waarsku dat bobbejane gevaarlik is en dat inwoners hom nie moet konfronteer nie. Hier is die bobbejaan op 20 September in Louwstraat afgeneem.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button