Local newsNews

Laerskool AG Visser ouers eis BL se koppe

Departement vra forensiese oudit aan.

Ná ‘n stormagtige twee maande waarin verskeie onthullings gemaak is wat Laerskool AG Visser laat steier het, is ‘n mosie van wantroue teen die beheerliggaam in geheel tydens ‘n begrotingsvergadering op 16 November deur ouers van die skool en ander belanghebbendes ingedien.

Die begroting vir 2018 wat tydens die vergadering voorgelê is, is ook in geheel verwerp en Mnr Mike Mokonane (direkteur van onderwys: Sedibeng Oos) moes ingryp en verklaar dat die begroting hersien en weer in Januarie voorgelê moet word.

‘n Gegriefde groep ouers het verskeie punte as stawing van die mosie van wantroue aan die vergadering voorgelê.

Die eerste hiervan is nepotisme van beheerliggaam – bevoordeling en begunstiging van familie en eie belange. Nog ‘n punt is wanbesteding van skoolfonds en inmenging en ongemagtigde wysiging van skoolbeleid.

‘n Vierde punt is die onregmatige verkoop van skooleiendom. ‘n Skoolbus is onder markwaarde en sonder enige kennisgewing aan ouers of goedkeuring, verkoop.

Inmenging en ongemagtigde wysiging van skoolbeleid asook die versuim om gelddiefstal uit die skool se kluis by die departement aan te meld, was nog punte wat genoem is.

Onregmatige vervolging van ouers en leerders op grond van persoonlike vendettas en nalatigheid met die byhouding en liassering van beheerliggaam vergaderingnotules is ook genoem.

Die groep is verder ongelukkig oor finansiële beleid teengestaan word. Enkel magtiging op die skool se bankrekening word gehandhaaf, hoewel beleid stipuleer dat twee magtigings vereis word.

Donateursfondse wat onreëlmatig aangewend word, was die negende punt wat uitgewys is.

Ten laaste is genoem dat die beheerliggaam versuim het om dissiplinêre stappe teen finansiële oortredings (waaronder derduisende rande se verlies gely is) te neem.

Een van die ouers het gesê hy tree names talle bekommerde ouers op oor ongerymdhede wat die afgelope drie jaar onder hul aandag gekom het en waaroor hulle nie langer kan stilbly nie.  Hy het genoem dat die skool se getalle en finansies die afgelope drie jaar drasties afgeneem het.

Hy het ouers gevra om saam te staan, saam probleme uit te sorteer en die vlam van die skool weer hoog te laat brand.

Niemand in die vergadering het die mosie van wantroue teengestaan nie en Mnr Mokonane het gesê dat hy dit onder die departement se aandag sal bring en dat ‘n besluit hieroor deur die departement geneem sal word.

Hy het egter aan ouers die versekering gegee dat ‘n ondersoek by die skool reeds aan die gang is en dat hy daarom nie veel daaroor kan uitbrei nie.

“Ek hou hierdie skool fyn dop en ek sal nie weggaan voor ek nie tevrede is dat alle probleme uitsorteer is nie,” het Mnr Mokonane onder luide applous gesê.

Hy het afgesluit deur te sê dat skoolgeld bedoel is om op leerders spandeer te word. “Die kinders van hierdie skool moet die voordeel uit finansies trek.”

Die Departement van Onderwys moet nou ‘n vergadering met BL-lede belê, waarna ouers oor die besluit ingelig sal word.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button