Heidelberg swemmers is tops
Victor Aquantum Swemskool ryg medaljes in by Eastern Gauteng Aquatics.

Victor Aquantum Swemskool het ‘n uitstekende EGA (Eastern Gauteng Aquatics) kampioenskappe van 6 tot 10 Desembers te Delville gehad met verskeie medaljes wat huis toe gebring is.
Die klub het altesaam 23 goue, 28 silwer en 11 brons medaljes (teenoor verlede jaar se 13 goue, 13 silwer en 11 brons medaljes) ingeoes.
Die “Champs” soos die swemmers die kampioenskappe noem, vind jaarliks tussen die onderskeie swemklubs in Oos Gauteng plaas. Hoewel Victor Aquantum een van die kleiner klub is, het hulle uitsonderlik presteer.
Cristopher Strydom (11) het drie rekords (in die 50m, 100m asook 200m rugslagitems) verbeter. Jandré Moll het ‘n 29 jaar oue rekord in die 100m vryslagitem (vir seuns van 16 jaar en ouer) in die stof laat byt.
Thilde Victor de Kock (afrigter) het self drie goue, een silwer en een brons medalje verdien.
Byna al die aflosspanne (seuns 10 tot 11 jaar, meisies 14 tot 15 jaar en seuns ope) het in podium plekke geëindig. Die hoogtepunt was toe die senior seunspan (Jandré Moll, Fabio Pellizzon, André Groenewald en Gibor van Zyl) die prestige 4x50m (individual medley) aflos oortuigend gewen het.




