Skryf nou in vir ATKV-Applous 2018
Nie net kan skoolkore vanjaar hul slag by die ATKV-Applousstreeksfeeste kom wys nie, maar ook by koorkenners kom kers opsteek oor koorsang.

Die ATKV-Applouskompetisie word vanjaar vir die 41ste keer aangebied en op versoek van koorleiers word koorwerkswinkels ook gehou.
Volgens Johan Esterhuizen, bestuurder: jeugprojekte, is sy span baie opgewonde oor vanjaar se kompetisie.
“Vanjaar se Applous het slegs een ronde – die streeksfees. Elke streeksfees gaan egter ’n finaal in eie reg wees.”
Die koorwerkswinkels gaan aangebied word deur spesialiste op die gebied van koorsang en onderwerpe wat onder meer behandel sal word, is repertorium, koorklank, stembou en intonasie.
Die kategorieë waarin laerskoolkore kan inskryf, is Afrikaans (moedertaalsprekers), nie-Afrikaansmoedertaalsprekers en meer ervare senior en junior kore.
Hoërskoolleerders kan meeding in kategorieë vir Afrikaans (moedertaalsprekers), nie-Afrikaansmoedertaalsprekers en meer ervare kore met subafdelings vir seunskore, meisieskore en gemengde kore.
Volgens Martin Berger, ’n bekende in koorkringe, moet kore vir ATKV-Applous inskryf omdat hul deelname passie kweek. “Passie is belangrik, want dis die dryfveer wat ons help om vorentoe te beweeg. Musiek kan passie kweek. Musiek kan ook kuns en sosiale geregtigheid meebring.”
“En deur musiek en koorsang kan ons bydra tot ’n beter en meer positiewe gemeenskap.”
Maar opskud, skole en koorleiers het tot 2 Maart 2018 kans om hul skoolkore vir deelname aan die ATKV-Applousstreeksfeeste in te skryf.
Vir meer inligting besoek www.atkv.org.za of kontak Bessie Keun by bessie@applous.co.za, Jacqueline Göttert by jacquelineg@atkv.org.za of skakel 011 919 9038.



