Dawie Pelser (42) en sy dogter Carmen (14) se begrafnis vind eerskomende Vrydag (9 Maart) om 14:00 vanuit die Klipkerk Heidelberg plaas.
Die pa en dogter het in ‘n botsing gesterf wat op 3 Maart (Saterdag) op die Meyerton-pad plaasgevind het. Twee dubbelkajuitbakkies (Pelser, sy vrou en dogter was in die een voertuig) het omstreeks 18:42 gebots wat Pelser en Carmen se lewens gekos het. Claire (Carmen se ma) is met beserings in die Life Suikerbosrand Hospitaal opgeneem. Sy is op 4 Maart ontslaan.
Daar was vier insittendes in die ander voertuig, waarvan een ook gesterf het. Joanie Duncan (24) was ‘n bekende Heidelberg inwoner en oud-Volkie. Vriende het op Facebook hul skok en hartseer oor die jong vrou se dood uitgespreek. Duncan se begrafnisdiens vind op Maandag, 12 Maart om 11:00 vanuit die Suikerbosrand NG Kerk Heidelberg plaas.
Die ander drie passasiers – Clarise Minnaar, Gert Coetzee en Shawn Carstens is in hospitale in Vereeniging en Alberton opgeneem. Minnaar is met veelvuldige beserings in die Netcare Unie Hospitaal opgeneem waar sy tans herstel. Coetzee en Carstens is in hospitale in Vereeniging opgeneem.





