Man kritiek na Sharon Park huisroof
‘n 54-Jarige man verkeer in ‘n kritieke toestand in die Netcare Unie Hospitaal in Alberton, nadat hy op 9 Maart tydens ‘n huisroof in die maag geskiet is.
Volgens polisiewoordvoerder Kapt Mavela Masondo, het die voorval omstreeks 22:40 by ‘n huis in Venterstraat, Sharon Park plaasgevind. Die huis waar die aanval plaasgevind het, is binne ‘n toegangsbeheerde woonbuurt tussen Dunnottar en Springs geleë.
‘n 15-Jarige meisie het volgens inligting gehoor hoe iemand ‘n venster in die huis breek en het na haar ouers se slaapkamer gehardloop om hulle daarvan in kennis te stel. Die egpaar het ondersoek ingestel waarop hulle drie mans in die huis gesien het.
“Hulle het teruggehardloop en probeer om die kamerdeur te sluit, maar die verdagtes het met geweld daarteen gedruk en dit oopgestamp. Een van die verdagtes het ‘n skoot afgevuur en dit het die man in die maag getref,” het Kapt Masondo gesê.
Die vrou (42) is met ‘n ystervoorwerp oor die kop geslaan en is ook later vir behandeling na Pholosong Hospitaal geneem. Die 15-jarige het volgens inligting geen beserings tydens die voorval opgedoen nie.
‘n Televisie, selfone, skootrekenaars en juweliersware is buitgemaak.
Geen verdagtes is nog aangekeer nie en die polisie se ondersoek wat huisroof, poging tot moord en aanranding met doel om ernstig te beseer, duur voort.



