Kunstenaar van Heidelberg eersdaags op die kassie
Wanneer die tweede seisoen van KykNET se gewilde werklikheidsprogram Kunsvlyt op 6 April afskop, kan Heidelbergers gerus naderskuif.
Onder die 10 deelnemers is daar vanjaar ‘n bekende gesig – dié van plaaslike kunstenaar Veronika Olivier wat op skeppende wyse vir eersteplek meeding.
Olivier sê sy is opgewonde oor die program en het elke oomblik van deelname ten volle geniet.
Tydens die kompetisie word deelnemers se kunswerk deur drie beoordelaars (insluitend Michelle Holtzhausen, redakteur van die Creative Hobbies Tydskrif, Trudie Ayres en Almie Louis) beoordeel. Kunswerk sluit enige iets van skilder, naaldwerk, gomwerk, lapwerk, rommel en houtwerk in.
Die wenner van die reeks ontvang pryse soos Brother drukkers en bybehore ter waarde van R8300, PNA-geskenkbewyse ter waarde van R20 000, ’n PNA-kontantprys van R20 000 en ’n Empisal-borduurmasjien ter waarde van R31 000.
“Die program is vertroulik by ‘n oord in ‘n klein dorpie buite Johannesburg opgeneem en deelnemers mag net soos by ander werklikheidsreekse soos ‘n Boer Soek ‘n Vrou, niks verklap nie,” het Olivier aan HERAUT gesê en Heidelbergers aangemoedig om die hele reeks te volg. Die laaste program word op 29 Junie uitgesaai.
Hou gerus ook KykNET Kunsvlyt se Facebook-blad dop vir foto’s en inligting wat na afloop van elke episode geplaas word. Olivier het Heidelbergers aangemoedig om haar te ondersteun deur kommentaar op haar werk te lewer.
Olivier bedryf ‘n kunsateljee vanaf haar huis en het al van haar kunswerke oorsee verkoop.
Sy gaan op 18 Mei van haar kunswerke tydens ‘n Wynproe-geleentheid vir fondsinsameling uitstal, waar een gelukkige Heidelberger haar skildery van die Klipkerk kan wen.
Meer besonderhede daaroor volg later.



