Rothman-egpaar klink ‘n glasie op 64 gelukkige huweliksjare
Die Rothman-egpaar glo die sleutel tot ‘n lang en gelukkige getroude lewe lê in wedersydse respek en kommunikasie.
Pikkie en Bes (albei 84 jaar oud) het op 10 April hul 64ste huweliksherdenking gevier en beweer dat rusiemaak nooit deel van hul getroude lewe was nie. Volgens Pikkie het Bes sy voete onder hom uitgeslaan toe hy haar destyds in die straat sien loop het.
“Ek het vir haar gefluit, waarop sy ‘n speelse buiging in my rigting gemaak het,” vertel Pikkie met ‘n glinster in die oog.
Hy het die opsitkers se vlam aan die brand gehou en op 10 April 1954 is hulle getroud. As ambagsman het hy en sy as tikster en bankklerk, hulle in Nigel gevestig. ‘n Seun en twee dogters is later uit die huwelik gebore.
“Ons is vanuit die NG Moedergemeente in die eg verbind – dieselfde kerk waair ons albei voorgestel en aangeneem is,” het Bes trots verklap.
Sterk Christelike waardes het die egpaar deur beproewings staande gehou, veral toe hul seun jare gelede tragies gesterf het.
Wanneer Pikkie hom nie bedags in sy groentetuin en Bes haar met naaldwerk besig hou nie, spandeer hulle graag tyd saam met hul ses kleinkinders.



