Fondsinsameling vir waardigheidspakkies vir Vroue Maand
Die Rensburg Forum doen 'n liefdadigheidsprojek wat mik om vroue in die voorstad se waardigheid te beskerm.
Die Rensburg Forum samel tans fondse in vir ‘n liefdadigheidsprojek ter viering van Vrouemaand, met die doel om die waardigheid en selfbeeld van vroue in die gemeenskap te bevorder.
Kontantskenkings sal gebruik word om waardigheidspakkies vir vroue in nood saam te stel. Die pakkies sal toiletware, sanitêre produkte en, waar moontlik, ander bederfies bevat.
Die forum verkies kontantskenkings sodat elke begunstigde dieselfde inhoud in haar pakkie ontvang.
“Saam kan ons waardigheid herstel, hoop bring en elke vrou in die gemeenskap daaraan herinner dat sy nie alleen is nie,” sê Annicka Smalberger van die forum.
Die sperdatum vir skenkings is 22 Augustus. Dit sal die forum genoeg tyd gee om die benodigdhede aan te koop en die pakkies gereed te kry vir die uitdeelprojek wat op 28 Augustus plaasvind.
Om ‘n skenking te maak, kontak Annicka by 081 599 5400 of Danika Schoeman by 067 719 3832.




