Local newsNews

Gert Maritz vier 104 somers

Herinneringe aan daardie dag toe hy en die bediende deur ‘n vlammehel oorval was, is nog vars in sy geheue.

In sy leeftyd wat langer as ‘n eeu strek, het Gert Maritz baie dinge gesien en groot oomblikke beleef. Meeste daarvan is egter lankal reeds vergete – behalwe sy noue ontkoming die dag toe hy in ‘n brandende plaashuis wakker geword het.
Gert het op 20 April die 104de herdenking van sy geboortedag saam met vriende en familie by die plaas wat byna deur ‘n brand verwoes is, gevier.
Herinneringe aan daardie dag toe hy en die bediende deur ‘n vlammehel oorval was, is nog vars in sy geheue. ‘n Groot gedeelte van die huis is deur die brand in puin gelê, maar Gert en die bediende wat hom uit die huis gehelp het, het gelukkig ongedeerd daarvan afgekom.
Dit is twee jaar later en Gert is terug by die plaas en omgewing waarvoor hy so lief is. Hy woon saam met sy seun Arnold, skoondogter Alet en hul kleindogter Maritza. Wanneer sy gesondheid  hom toelaat, soek hy graag die buitelug op en vroetel in die tuin, maar volgens Arnold het sy pa se gesondheid die afgelope tyd vinnig versleg.
Gert is al langer as 40 jaar deel van die Nigel gemeenskap en was voor sy aftrede ‘n bewaarder by die Korrektiewe Dienste in Springs en daarna Barberton. Hy is ‘n diep gelowige mens en staan elke Sondag vroeg op sodat hy en sy familie ‘n kerkdiens in die dorp kan bywoon.
Volgens Alet het Gert tot onlangs nog met allerlei huistakies gehelp en het soggens sy eie bed opgemaak.

 

 

Related Articles

Back to top button