Plaaslike skoonheid reik uit na Nigel DBV
Oud-Sagie Suné Bothma is nie net ‘n mooi gesig nie.

Hoewel dié 19-jarige skoonheid op 31 Maart as Miss Face of Kempton Park 2018 gekroon is, beywer sy haar eerder om by liefdadigheidswerk betrokke te raak. Kort na haar kroning het sy besluit om na Nigel DBV uit te reik sodat sy deur gemeenskapsbetrokkenheid die plaaslike skut se onmiddellike behoeftes kan aanspreek.
“Nigel DBV benodig dringend kos en komberse vir die diere. Ek doen ‘n beroep op inwoners van Dunnottar en Nigel, asook plaaslike besighede om hul gewig by my projek te gooi deur te help met skenkings van droë en nat honde- sowel as katkos en komberse,” het Bothma gesê en bygevoeg dat sy skenkings deur die publiek persoonlik sal afhaal.
Bothma spog ook met ander skoonheidstitels soos Miss Uniquely You 2016, Miss Goddess of Beauty 2017 en Miss Look of Summer 2017. Sy beplan om eersdaags haar studies in die toerismebedryf aan te pak en mik ook na skoonheidtitels wat vir haar die deure sal oopmaak na groter liefdadigheidsprojekte.
Belangstellendes wat Bothma wil bystaan met skenkings kan haar by 076 944 9886 skakel of ‘n e-pos na suru@mweb.co.za stuur.



