Nigel Tuiste vir Bejaardes verwelkom nuwe bestuurder
Nigel Tuiste vir Bejaardes se bestuursraad het op 12 April ‘n spesiale verwelkomingstee vir die nuut aangestelde bestuurder Pieter Smit (53), gehou.
Smit het die leisels by Chris Engelbrecht, wat in Desember afgetree het, oorgeneem. Hoewel hy nog in Brakpan woon, is Smit nie onbekend in die plaaslike midde nie. Hy was destyds ‘n leerder by Laerskool Tini Vorster en daarna by Laerskool Hannes Visagie, maar in Graad 11 het hy Hoërskool John Vorster vaarwel geroep toe sy ouers na Randfontein verhuis het.
Na matriek wou hy eers rekenmeester word en het by die Universiteit van Pretoria ingeskryf, maar kort daarna het hy besluit om sy studierigting na Teologie te verander en het hy by die Evangelies Gereformeerde Kerk se kweekskool in Jameson Park begin studeer.
Hy was later kapelaan by die Leërgimnasium in Heidelberg, waarna hy ‘n predikantsbediening in Marble Hall aanvaar het. Gedurende die 90s het hy en sy gesin na Brakpan verhuis waar hy eers die Evangelies Gereformeerde Kerk Brakpan bedien en later die sakewêreld betree het.
Smit is ‘n gesinsman en spog graag met sy seun en twee dogters en sê hy sien uit daarna om diep spore in Nigel te trap. Hy is daarop gefokus om ‘n verskil in die lewens van ander te maak en sê hy wil dit deur menslike interaksie bewerkstellig.
“My doelwit is om ‘n gesindheid van ware omgee vir mekaar onder die gemeenskap te vestig. Mense moet meer belangstelling in mekaar toon. Ons verwelkom besoekers by die Tuiste vir Bejaardes en nooi almal om ons inwoners te kom ontmoet en by hul daaglikse aktiwiteite betrokke te raak,” het hy gesê.



