Afsterwe van voormalige skoolhoof laat groot leemte
Dirk Petrus Human van Jameson Park is op 22 Mei in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

Hy sal veral onthou word as die hoof van Jameson Park Laerskool. Sy liefde en deernis vir kinders het deur die jare een van sy bekendste karaktertrekke geword. Behalwe vir sy belangrike rol in die opvoeding van leerders, was hy ook vir sy eie kinders ‘n ware rolmodel. Hy word beskryf as ‘n voorbeeldige ouer wat sy gesin altyd eerste gestel het.
Human se onderwysloopbaan het by Laerskool Leandra begin, waarna hy ‘n pos by Laerskool Devon aanvaar het en in 1969 as hoof by Laerskool Asbes aangestel is. Gedurende 1971 is hy as hoof van Jameson Park Laerskool aangestel en het aan die stuur van sake gestaan tot die skool in 1993 permanent gesluit het. Die Jameson Park gemeenskapsaal is kort daarna na hom vernoem. Human het ook vir etlike jare as raadslid van Nigel Stadsraad gedien.
As hoof was hy streng, maar passievol teenoor die onderwysberoep en het daarna gestrewe om die gemeenskap te verbeter deur leerders met kennis en lewensvaardighede te bemagtig.
Hy was ‘n gelowige familieman wat elke oomblik aan sy eggenote Susan en hul kinders gewy het. Deur swaar tye het hy hulle gedra en was ‘n konstante bron van inspirasie. Volgens sy familie was hy die sement wat hul fondasie aanmekaar gehou het.
Nie net het hy ‘n groot indruk op sy eie kinders gemaak nie, maar hy was ook ‘n liefdevolle figuur in die lewens van sy kleinkinders en agterkleinkinders. Hy het ‘n goeie voorbeeld gestel en as nalatenskap het hy hulle met kennis toegerus. Vir sy familie is en sal hy altyd ‘n legende bly. Die familie is met boodskappe van medelye oorval en wil ieder en elk vir hul bystand en ondersteuning bedank.
‘n Gedenkdiens is op 30 Mei vanuit die Evangelies Gereformeerde Kerk Nigel gehou.