Kranslegging vir gestorwenes van Tweede Vryheidsoorlog
Ongeveer 5 000 boere het gedurende die oorlog gesneuwel en ten minste 20 000 boere en 12 000 Afrikane het hul lewens in konsentrasiekampe verloor, meesal kinders onder 16 jaar.
‘n Kranslegging om hulde te bring aan burgers wat op die slagveld tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het, het op 31 Mei by die Midvaal Blokhuis en Vredesmonument in Vereeniging plaasvind.
Gedurende die oorlog (ook bekend as die Suid-Afrikaanse oorlog oftewel die Anglo-Boereoorlog) het twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, wapens opgeneem teen die Britse Ryk, spesifiek die Kaapse en Natalse kolonies van Groot Brittanje.
Oor die tydperk van 1899 tot 1902, het dit Brittanje nagenoeg 200 miljoen pond, 448 435 Britse- en Rykssoldate en sowat 20 000 Britse lewens gekos om ‘n “boererebellie” in die kiem te smoor.
Aan die kant van die Boererepublieke was die koste van die oorlog baie hoog. Elke republiek se ekonomie is totaal deur die “verskroeide-aarde beleid” wat deur die Britse generaals toegepas is, vernietig. Toe die Boere by die Vrede van Vereeniging hul wapens neerlê, het baie as hoofrede vir hul oorgawe die lyding van hul vroue en kinders aangevoer.
Ongeveer 5 000 boere het gedurende die oorlog gesneuwel en ten minste 20 000 boere en 12 000 Afrikane het hul lewens in konsentrasiekampe verloor, meesal kinders onder 16 jaar – hoofsaaklik as gevolg van swak voorbereiding, ‘n tekort aan behoorlike sanitasie en swak skuiling.




