Local newsNews

Oud-Volkie vier 80 somers in Heidelberg

De la Harpe is op Lentedag 1938 in Maraisstraat gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan by Laer Volkskool voltooi

Wanneer dit by een van die dorp se langslewende inwoners kom, het Ed de la Harpe weinig bekendstelling nodig.

Dié fenomenale man het op 1 September sy 80ste verjaardag by die Heidelbergse Vereniging vir Bejaardes.
Suikerbosoord gevier en HERAUT het hom kort daarna besoek om oor sy ervarings en wedervarings die afgelope 80 jaar te gesels.

De la Harpe is op Lentedag 1938 in Maraisstraat gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan by Laer Volkskool voltooi, waarna hy by Hoër Volkskool matrikuleer het. Hy het sy tersiêre kwalifikasies by die Heidelbergse Onderwyskollege (BA T.HOD) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal en sy diensopleiding by die Suid-Afrikaanse Weermag in Potchefstroom voltooi, waar hy ‘n opleidingskadette offisier (kaptein) was.

As voorslag Engels onderwyser, was hy gesog en Hoër Volkskool het hom dadelik opgeraap. Hy was 36 jaar in die onderwysberoep en is gedurende hierdie tyd van departementshoof: Engels tot adjunkhoof by Hoër Volkskool bevorder.
As sportliefhebber het De la Harpe graag tennis, muurbal en gholf gespeel, maar dit was veral sy talent op die muurbalbaan wat hom bo ander laat uitstaan het. Gedurende 1972 is hy as Heidelberg se muurbalkampioen gekroon. Hy was ook die ontvanger van die Staatspresidentstoekenning vir Sportafrigter wat in 1983 aan hom toegeken is.

Hy het ‘n sterk Christelike uitkyk op die lewe en dien al die afgelope 42 jaar op die Klipkerk se kerkraad. Met ‘n joernalistieke agtergrond kon dit ook nie anders dat hy die mede-redakteur van die kerk se feesblad tydens hul 150-jaar vieringe geword het nie. Hy het saam met wyle Piet van Coller, Ds Bennie de Klerk, Ds Alta Kotzee en Riana Hendriksz op die redaksiespan gedien.

De la Harpe was ook die redakteur van Weerspieëlinge – die 1950 Gedenkblad van Heidelberg Onderwys Kollege.
Wanneer hy terugkyk op sy lewe is daar ‘n paar monumentale gebeurtenisse wat hom altyd sal bybly. Een daarvan is die onthulling van die tydkapsule op 3 Junie 2011 by Hoër Volkskool.

“Die wêreld, die land en die skool het baie verander sedert leerders 50 jaar gelede hul name op ’n stuk papier geteken en dit in ’n muur toegemessel het. Vir die huidige leerders was dit iets ongewoons en vir my het die herinneringe daardie dag teruggestroom,” het hy verklap.

Hy onthou ook dat hy tydens die skool se 100-jaarvieringe in 2015, presies dieselfde teksvers uit Joshua 1 voorgelees het as wat in 1915 voorgelees is.
Wat min mense regtig van hom weet, is dat hy ‘n groot passie vir klassieke musiek – veral opera koester en dat hy as jongman gereeld opera-opvoerings in Johannesburg bygewoon het.

Wanneer hy hom nie bedags in ‘n boek verdiep nie, ry hy graag in sy eie motor dorp toe om inkopies te doen. Hy noem ook dat hy uiters gesteld is op ‘n gestruktureerde lewe en dat hy ‘n spesifieke daaglikse roetine volg.

Al woon hy skaars ‘n jaar by die Suikerbosoord, het De la Harpe homself goed in sy eie wooneenheid tuisgemaak en sê hy geniet die daaglikse geselskap van mede-inwoners.

 

Follow us:

         

Facebook      Twitter

Related Articles

Back to top button