Nasionale Braaidag – Alles proe beter wanneer dit gebraai is
Dié dag gedenk Suid-Afrika sy ryk erfenis en sy unieke tydverdryf - die braai. Mense van alle demografiese groepe en godsdienste neem hieraan deel.
Vir talle mense is daar net twee dae in die jaar wat saak maak – jou vrou se verjaardag en Nasionale Braaidag.
Indien jou vrou se verjaardag iets van die verlede is, bly daar een belangrike dag oor.
Koop solank die hout, marinade, vleis en ‘n ou drinkdingetjie, want op 24 September word die vreugdevure aangesteek en dan word daar gebraai.
Nasionale Braaidag word jaarliks op Erfenisdag gevier en Suid-Afrikaners wêreldwyd word aangemoedig om iets oor die kole te rooster.
Met die vooruitsig van ‘n luilekker langnaweek wat daarmee gepaard gaan, is daar geen verskoning om nie agter die rooster in te skuif en jou vernuf as voorslag braaimeester te wys nie.
Dié dag gedenk Suid-Afrika sy ryk erfenis en sy unieke tydverdryf – die braai. Mense van alle demografiese groepe en godsdienste neem hieraan deel.
Nasionale Braaidag is vir die eerstekeer in 2005 deur die Mzansi Braai-instituut georganiseer, en sedert 2008 word dit onder die vaandel van Braai vir Erfenis (Braai4Heritage), as nie-winsbejag inisiatief bemark.
Op 5 September 2007 word aartsbiskop Desmond Tutu as die beskermheer van die dag aangestel. Die inisiatief ontvang in 2008 die amptelike goedkeuring van Suid-Afrika se Nasionale Erfenisraad.
Jan Braai, Suid-Afrika se bekende braaimeester sê:
“As jy enigsins twyfel of jou vuur groot genoeg is, dan moet jy weet hy is te klein. Arm en ryk mense braai almal met hout – dit is die groot gelykmaker.”
Volg gerus hierdie maklike resep uit een van die Jan Braai se resepteboeke. Die resep is maklik, vinnig en heerlik.
Braaiketel hoender
Wat jy benodig is 1 heel hoender, een tot twee sopies van jou gunsteling hoenderspeserye of ‘rub’, een blikkie appelwyn, gemmerbier, bier, Coke, appelsap of druiwesap en vier tot agt middelslag tot groot aartappels.
So maak jy:
- Maak die blikkie appelwyn, gemmerbier, bier, Coke, appelsap of druiwesap oop en gooi ‘n groot sluk in jou keel af. Laat die res van die vloeistof kamertempertuur bereik;
- Steek die houtskoolvuur aan en stel jou braaiketel op vir nie-regstreekse braaiwerk. By ‘n Kamado-tipe ketel behels dit dat jy die weerkaatsingsplaat moet gebruik en by ‘n gewone braaiketel beteken dit jy moet twee hopies kole op die onderste rooste hê met ‘n oop strook in die middel;
- Verwyder die sakkie binnegoed uit die binneholte van die hoender (indien nodig);
- Vryf die binne- en buitekant van die hoender goed in met jou speserye;
- Druk die blikkie vloeistof in die binneholte van die hoender;
- Maak die hoender staan (met die blikkie daarin regop) in die middel van die boonste rooster van die braaiketel en pak die aartappels om die hoender;
- Sit die deksel op en bak die hoender vir een uur teen 180°. Maak seker die onderste en boonste lugluike is oop, anders gaan die kole uitdoof of doodgaan;
- Moenie die deksel in die eerste 50 minute oplig nie;
- Na 50 minute tot een uur sal die hoender gaar wees. Die vel sal bros wees en die blikkie vloeistof sal deur die hoender gestoom het om die vleis sappig en geurryk te maak. Hoender is gaar wanneer die interne temperatuur van die dikste dele van die vleis 77°C op jou vleistermometer bereik;
- Haal die hoender en aartappels uit die braaiketel, raak ontslae van die blikkie en oorblywende vloeistof en laat die hoender vir ‘n paar minute rus voordat dit gesny word.
- Bedien met aartappels wat teen dié tyd bros aan die buitekant en sag binne sal wees.
Follow us:



