Rolbalpret dra by tot stewige donasies
Liebenberg Malan Liezel Horn Ing Prokureurs het die bal aan die rol gesit vir liefdadigheid tydens hul rolbal-vir-liefdadigheidsprojek saam met kollegas in die eiendomsmark.

LMLH Ing het op 21 September die fondsinsamelingsgeleentheid by Heidelberg Rolbalklub aangebied en het verskeie eiendomsagente, belastingkonsultante en verbandinisieerders vir die dag genooi om deel te neem.
Ingangsfooi was ‘n sak hondekos en deelnemers moes ‘n donasie aan die DBV, Lesedi Care Centre of Shalom Ministries gee. Lede van die rolbalklub het spanne touwys gemaak oor die reëls van die spel, waarna 44 spelers teen mekaar in goeie gees kompeteer het.
Die spanne het vir goeie spel gesorg met Aïda rooi-span wat met die louere in eersteplek weggestap het. Die Liebenberg Malan wit- en swart spanne het onderskeidelik tweedeplek en derdeplek verwerf.
Die dag is afgesluit met ‘n prysuitdeling en ‘n braai. Die Property Professionals span het die meeste fondse ingesamel vir liefdadigheid en sodoende die misteria prys gewen. ‘n Hele bakkievrag vol hondekos is na afloop van die dag by die Heidelberg DBV afgelaai.


