Local newsNews

Bejaarde egpaar baat albei by ‘wonderwerk’

In die hartjie van Heidelberg verwelkom die Van der Zandt-egpaar hul gaste in hul nederige dóg kleurvolle en knus huisie.

“Dit is nou so lekker om te kan hoor wanneer hier mense buite is,” sê  Bokkie van der Zandt (81) wat in haar rype ouderdom al hoe meer hardhorend geword het. Langs haar sy staan Erens (84), of Ertjies, soos sy geliefde vrou hom noem. Hy glimlag ook breed en waardeer die geluide om hom.

Anders as sy vrou, is Erens doof gebore. Soos tegnologie oor die jare verbeter het, kon hy egter in sy kinderjare gehelp word om met die hulp van ’n gehoorapparaat in sy linkeroor te hoor.
“Ek kan nie onthou wat ek eerste gehoor het nie. Dit was ’n vreemde ervaring, maar dit was wonderlik, veral om mense se stemme te hoor,” sê hy.

Ernst en Bokkie het 63 jaar gelede ewige trou aan mekaar beloof en drie seuns en twee dogters is uit die huwelik gebore. Hulle het  die meeste van die tyd in Heidelberg gewoon waar Erens as ’n passer en draaier gewerk het. Bokkie het meestal na die kinders omgesien en besig gebly met haar bakvernuf en unieke kunswerke wat sy uit skulpies gemaak het.

Erens se gehoorapparaat het deur die jare baie verouder en Bokkie se gehoor het drie jaar terug begin verswak, waarna stilte stadig in die huishouding ingetree het.

“Iets klein soos om winkel toe te gaan was vir ons ’n wroeging. Sou ’n mens byvoorbeeld iemand vir hulp vra oor waar ’n produk is, dan kan ’n mens nie hoor wat hulle antwoord nie en voel dan sleg as jy vir die persoon vra om dit te herhaal,” vertel Bokkie.

“Ja, dis hoekom my my ore so bak staan… dit is van al die kere wat ek moes vra ‘hoe sê?’,” skerts Erens en hou sy linkerhand bak om sy oor.

Die egpaar verduidelik hoe hulle van die samelewing begin onttrek het, aangesien hulle nie meer kon hoor en deel wees van ’n gesprek nie. Hulle het begin vrede maak met hul situasie, want daar was net nie genoeg geld vir peperduur gehoortoestelle nie.

Hul dogter Aniki het in die media van Solidariteit Helpende Hand se projek vir hardhorende bejaardes gelees. Sy het namens haar ouers aansoek gedoen en die Van der Zandt-egpaar het deel van talle bejaardes geword wat deur dié inisiatief weer die gawe van gehoor gegee is. Ná ’n besoek aan ’n oudioloog van Impact Hearing in Pretoria, is hul gehoorapparate gemaak, gepas en onlangs aangeskakel.

“Nou hoor ons baie mooi. Die oumense om ons is skoon jaloers,” skerts Erens weer.

“Die toestel is mooi, klein en gemaklik en pas in ’n japtrap in. Dit werk perfek, die klank is mooi suiwer en die battery hou lekker lank. Ons kan nou weer kerkdienste luister en waardeer mooi musiek,” sê Bokkie dankbaar.

Lees ook: AfriForum skep hoop in Heidelberg tydens boomplantmaand

 “Ek hou veral van boeremusiek. Ek en die tannie het lekker daarop gedans toe ons jonger was,” voeg Erens by.

Hy raak meer ernstig as hy sê ’n mens aanvaar gehoor as vanselfsprekend. “Ons het weer  ons menswaardigheid en selfvertroue terug. Ons is baie dankbaar vir die wonderwerk om te kan hoor. Ons bid ook daagliks vir al die mense wat hul lewens toewy om dowe mense te help,” sê hy dankbaar.

Kyk na die video hier: Bejaarde egpaar baat albei by ‘wonderwerk’

* Helpende Hand, in samewerking met Impact Hearing, help vanjaar 25 bejaardes met twee gehoorstukke elk, om hierdie mediese nood wat so algemeen onder bejaardes voorkom, te verlig. Vanaf 2015 het Solidariteit Helpende Hand al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van nagenoeg R2.3 miljoen. Die projek duur steeds voort en hoop om nog baie mense se lewens te verbeter met die gawe van gehoor.
*  Vir meer inligting besoek www.helpendehand.co.za.

 

Volg ons op:

         

Facebook      Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button